Aanloopbaan-fout lei tot ongeluk

Foto: @harriettolputt op Twitter

Foto: @harriettolputt op Twitter

Die SA Burgerlugvaartowerheid (Sacaa) het Maandag gesê ʼn fout op die aanloopbaan het tot die ongeluk Sondagaand by OR Tambo gelei.

“Lugverkeerbeheer het die bemanning van die British Airways Boeing 747-400 aangesê om aanloopbaan B te gebruik,” het Phindiwe Gwebu, woordvoerder vir Sacaa, in ʼn verklaring gesê. “Die bemanning het egter van aanloopbaan M gebruik gemaak. Dié aanloopbaan is nouer en die vliegtuig het die kantoorgebou agter die SAL-tegniese loodse getref.”

Vier hanteringspersoneellede in die gebou het ligte beserings opgedoen toe die puin hulle getref het nadat die vliegtuig se vlerk die gebou deurklief het. “Die 185 passasiers aan boord en 17 bemanningslede is nie beseer nie en is veilig ontruim,” het Gwebu bygevoeg.

Van die brandstof het glo uitgelek, maar dit is deur die brandbestryders by die lughawe onder beheer gebring.

Ondersoekbeamptes het toesig gehou toe die vliegtuig geskuif en die vlugopnemer uitgehaal is.

“Die ondersoek duur voort,” het Gwebu gesê.

Die Lughawensmaatskappy van Suid-Afrika (Acsa) het vroeër gesê die ongeluk het plaasgevind net voordat die vliegtuig, onderweg na Heathrow-lughawe, kon opstyg. Die passasiers moes by ʼn hotel in die lughawe oornag. “Die vliegtuig is nou na ʼn verafgeleë plek geskuif en bedrywighede by die lughawe is nie ontwrig nie,” het Unathi Batyashe-Fillis, woordvoerder vir Acsa, gesê.

Lees ook:
BA-vliegtuig tref gebou by OR Tambo

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.