Aansoek teen e-tolstelsel aangehoor

Die Bondgenootskap Teen Stedelike Tol (BTST) se dringende hofaansoek teen die Gautengse e-tolstelsel sal Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria aangehoor word.

BTST se voorsitter, Wayne Duvenhage, sê hulle sal vir ʼn dringende interdik vra om die Suid-Afrikane Nasionale Padagentskap (Sanral) te keer om die e-tolstelsel te implementeer. Duvenhage sê die interdik sal regters dan die kans gee om die argumente teen die e-tolstelsel te hersien en dan te besluit of dit moet voortgaan of verbied moet word. Die burgerregte organisasie, AfriForum, het intussen aansoek gedoen om as vriend van die hof toegelaat te word. Die padvragvereniging (RFA) en die Tolhek Aksie Groep (TAG) wat uit die VF+, die Nasionale Belastingbetalersunie (NBU), TLU SA en die Federasie vir Woonwa- en Kampeerklubs (FWKK) het ʼn soortgelyke aansoek gebring. Die DA sê hy sal intussen sy steun vir die hofaansoek wys deur buite die hof te betoog. Cosatu het ook bevestig dat hy Maandag sal voortgaan met die “moeder van alle optogte”. Die tesourie het Maandag aangekondig dat hy die hofaansoek teenstaan. “Daar sal negatiewe implikasies vir die toekomstige finansiering van paaie en beleggings in openbare vervoer wees as ’n hofbevel Sanral keer om met tolheffing op Gautengse hoofweë voort te gaan,” het die tesourie in ’n verklaring gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.