Aansoeke om Oscar-saak uit te saai

Oscar Pistorius Foto: ryanseacrest.com

Oscar Pistorius Foto: ryanseacrest.com

Mediahuise gaan Woensdag by die Pretoriase hooggeregshof aansoek doen om Oscar Pistorius se moordsaak regstreeks uit te saai.

Die aansoek word deur eNCA gebring en MultiChoice en Eyewitness News sluit daarby aan. Die mediahuise wil ook die verrigtinge regstreeks op klankbane uitsaai en foto’s neem tydens die verhoor.

Die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Dinsdag gesê hy sal nie die aansoek teenstaan nie. Nathi Mncube, woordvoerder vir die NVG, het aangedui dat die NVG wel ʼn paar voorwaardes gaan stel, maar Mncube wou nie dié voorwaardes bekend maak nie.

Pistorius word beskuldig van moord op die model Reeva Steenkamp in Februarie 2013. Sy verhoor sal na verwagting van 3 tot 20 Maart duur.

Dit is nog nie duidelik of Pistorius se regspan die aansoek gaan teenstaan nie.

“The Oscar Pistorius Trial: A Carte Blanche Channel”, ʼn 24-uur televisiekanaal oor die moordverhoor sal na verwagting van 2 Maart op DStv beskikbaar wees.

Altesaam 107 getuies, insluitend Pistorius se suster Aimee, sy oom Arnold, voormalige polisiebeampte Hilton Botha, en inwoners van die Silver Woods Country Estate, sal na verwagting vir die staat getuig. Mediakenners, ʼn weervoorspeller, paramedici en ballistiese en forensiese kenners sal ook geroep word. Pistorius se gewese meisies, Melissa Rom en Samantha Taylor, sal glo ook getuig.

Regter Thokozile Matilda Masipa sal die saak aanhoor. Masipa was ʼn misdaadverslaggewer voordat sy haarself as ʼn advokaat gekwalifiseer het. Sy is in 1998 as ʼn regter aangestel. Die departement van justisie verwag dat meer as 300 verslaggewers die hofverrigtinge sal dek.

Nadat Masipa as die regter in die saak aangewys is, het die media veral op twee van haar uitsprake gefokus waar sy maksimumvonnisse toegeken het aan mans wat skuldig bevind is aan geweld teen vroue. Een van dié sake was die reeksverkragter Shepherd Moyo. Masipa het Moyo in Mei 2013 tot 252 jaar tronkstraf gevonnis om as ʼn afskrikmiddel vir ander misdadigers te dien.

Masipa het ʼn voormalige polisiebeampte, Freddy Mashamba, in 2009 lewenslange tronkstraf opgelê nadat hy sy eksvrou tydens ʼn stryery doodgeskiet het. Die twee het oor ʼn egskeidingsooreenkoms gestry. -SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.