Aansporingsbonusse vir elektriese motors

Minister Rob Davies by een van die elektriese motors Foto: Werner Beukes/SAPA

Suid-Afrikaanse motorvervaardigers sal glo aansporingsbonusse ontvang indien hulle elektriese motors vervaardig.

“Suid-Afrika moet nie in groen inisiatiewe en tegnologie agter bly nie,” het Rob Davies, minister van handel en nywerheid, Donderdag in Johannesburg by die bekendstelling van die elektriesevoertuig-bedryfspadkaart gesê. Onder dié bedryfspadkaart sal vervaardigers ten minste 5 000 elektriese motors moet vervaardig om vir die aansporingsbonus te kwalifiseer.

Die regering sal vervaardigers glo 35% van hul produksiekoste oor drie jaar vergoed. Davies sê die padkaart sal in Junie vir publieke kommentaar gepubliseer word. Die departement sal in daardie stadium met betrokke partye en belanghebbendes, insluitend die National Union of Metalworkers SA (Numsa) vergader.

Die doel is om teen Julie ‘n bestuurskomitee vir die elektriesevoertuig-bedryf te stig om publieke insette te oorweeg en aansporingsbonusse te bestuur. Davies is vol vertroue dat die plan binnekort in werking sal tree. “Ons beplan om die finale program teen September vanjaar by die kabinet in te dien,” het hy gesê. Hy sê die padkaart moet die ontwikkeling van infrastruktuur vir die plaaslike vervaardiging van elektriese motors aanmoedig.

Die regering oorweeg glo aansporingsbonusse vir verbruikers, maar die fokus is tans op vervaardigers.

Volgens Davies neem Eskom deel aan die ontwikkeling van programme wat elektriese motors meer aanloklik sal maak vir Suid-Afrikaners.

Edna Molewa, minister van water en omgewingsake, het in Februarie ‘n publieke privaat-proefneming aangekondig vir ‘n uitlaatvrye elektriese motor. Molewa het ook Donderdag se geleentheid bygewoon. “Daar is drie ladingstasies in die land beskikbaar wat uitsluitlik van sonkrag gebruik maak,” het Molewa gesê. “Ons beplan 50 ladingstasies teen 2015 vir elektriese motors.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.