Aantygings oor SAR-dodetal verwerp

Soldate sing Dinsdag tot eer van hul gevalle kollegas by Swartkop-lugmagbasis Foto: Werner Beukes/SAPA

Die weermag het aantygings dat meer as 13 Suid-Afrikaanse soldate in die SAR gesterf het, afgemaak.

“Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) verwerp berigte wat aanvoer dat meer as 13 soldate in die Sentraal-Afrikaanse Republiek (SAR) gesterf het,” het brig.gen. Xolani Mabanga, woordvoerder van die SANW, Donderdag gesê. Hy het nie op sy een paragraaflange verklaring uitgebrei nie.

Franse nuusagentskap AFP het vroeër berig SAR-rebelle voer aan die aantal Suid-Afrikaanse soldate wat in die skermutseling oorlede is, is tussen 36 en 50. Die weermag het gesê 13 soldate is dood. Benewens die wat dood is, is 27 troepe op 23 Maart gewond toe hulle deur Seleka-rebelle naby Bangui aangeval is.

Maite Nkoana-Mashabane, minister van internasionale betrekkinge, het vroeër gesê die regering sal ondersoek instel na berigte wat die aantal Suid-Afrikaanse soldate wat dood is, bevraagteken. Sy sê amptelike verklarings dui aan dat die situasie in die SAR “chaoties” was.

President Jacob Zuma het Woensdag aangekondig dat alle Suid-Afrikaanse troepe uit die gebied onttrek sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.