Aantygings teen Thuli Madonsela ingedien

Thuli Madonsela Foto: Werner Beukes/SAPA

Lede van die parlement het Dinsdag ʼn lys van aantygings teen die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, bekend gemaak.

Die parlement se portefeuljekomitee van justisie het vergader om te bespreek hoe hulle die verskeie klagtes gaan hanteer. Talle van die klagtes oor wanadministrasie in Madonsela se kantoor is anoniem ingedien.

Madonsela, wat op 2 Augustus voor die komitee moet verskyn, sal ook moet reageer op bewerings wat deur haar voormalige adjunk, Mamiki Shai, gemaak is. Luwellyn Landers, voorsitter van die komitee, het gesê daar is verskeie aantygings, insluitend:
– Nienakoming van beleid met betrekking tot oorsese reise en oorplasing van personeellede;
– geen duidelike grens van rolle tussen die adjunk openbare beskermer en die hoof uitvoerende beampte nie;
– onvoldoende toekenning van hulpbronne aan die adjunk openbare beskermer;
– twyfelagtige interne beheer; en
– vrugtelose uitgawes.

ʼn Brief wat bogenoemde en ander klagtes bevat sal aan Madonsela gestuur word sodat sy genoegsaam tyd het om ʼn reaksie voor te berei.

Sommige lede van die parlement het ook tot die lys bygedra, insluitend Debbie Schafer, LP van die DA. “Ek is veral besorg oor bewerings oor Mthethwa se aanstelling. Daar was bewerings dat hy vroeër van Salga [die SA Local Government Association] geskors is, en dat hy dit nie bekend gemaak het nie,” het Schafer gesê. Schafer verwys na Madonsela se hoof uitvoerende beampte, Themba Mthethwa, wat tans deur die polisie ondersoek word. Madonsela word daarvan beskuldig dat sy hom beskerm.

Shai het in November glo aan die komitee gesê dat haar handtekening, in die tyd wat sy by die openbare beskermer gewerk het, deur Mthethwa nagemaak is en dat die saak by die polisie aanhangig gemaak is.

Landers het gesê Madonsela sal nie versoek word om op hierdie spesifieke aantyging te reageer nie, aangesien die saak tans deur die polisie en die vervolgingsgesag ondersoek word.

Alhoewel sommige LPs glo dat die ouditeur-generaal en ander instansies versoek moet word om die bewerings te ondersoek, voel meeste dat die komitee toegelaat moet word om Madonsela se kant van die saak aan te hoor, ʼn verslag saam te stel en dan aanbevelings te maak aan die nasionale vergadering.

Die Huis kan dan besluit om ʼn resolusie goed te keur en die betrokke owerhede versoek om die aantygings te ondersoek.

LPs het ingestem dat talle van die aantygings moeilik sal wees om te ondersoek, aangesien dit anoniem ingedien is. “Indien jy aantygings van lede van die publiek en personeellede ontvang wat anoniem wil bly, en ons verwys dié aantygings na die openbare beskermer, sal sy omdraai en sê: ‘Wanneer het dit gebeur? Waar het dit gebeur? Wie is hierdie persoon? Ek het die reg om die persoon se bewerings te bevraagteken.’ En dan val die hele ding plat en sy sal by magte wees om dit te doen,” het Landers gesê.

Landers sê, alhoewel die komitee aanbevelings kan maak, is dit nie ʼn tribunaal met ondersoekende magte nie. LPS sal probeer om te bepaal of daar interne meganismes binne die OB se kantoor was om personeellede se griewe te hanteer. Indien nie, sal dit hanteer moet word, het hy gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Ek het gewag vir die dag dat die ANC van haar gaan begin ontslae raak. Sy gee hulle te veel slae en hulle is bang vir die Nkandla-verslag wat op pad is. Hulle gaan op een of ander manier van haar ontslae raak

Amanda Wait ·

Net soos jy daar sê Sarie. Ek het nog altyd van haar gehou.

H J Bester ·

Die Openbare Beskermer, Thuli Madonsela, is die enigste betroubare en geloofwaardige beampte wat ‘n rol kan speel om die bedenklike en korrupte optredes van ANC-regeringslede, waarby Zuma ingesluit is, aan die kaak kan stel. Alle ander meganismes is reeds doeltreffend deur die ANC-regering uitgeskakel.

Paul ·

Ek is verbaas dat sy nie lankal vermoor is nie. Hierdie korrupte spul sal nou alles probeer om van haar ontslae te raak, maar ons sit hier magteloos om iets daaraan te doen. Eendag sal hulle self aan die onderkant van die wiel kom.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.