Aanval op fotograaf veroordeel

Plaaslike en internasionale verslaggewers kamp uit voor die hospitaal waar oudpresident Mandela glo behandel word. Foto: Werner Beukes/SAPA

Die Nasionale Persklub het ʼn “moedswillige aanval” op ʼn fotograaf buite die hospitaal waar oudpresident Nelson Mandela glo behandel word, ten sterkste veroordeel.

“ʼn Aanval op een verslaggewer wat sy werk doen is klaar een aanval te veel,” het Jos Charle, voorsitter van die persklub, in ʼn verklaring gesê. “Ons veroordeel dit en doen ʼn beroep op die polisie om die saak met die dringendheid wat dit verg te hanteer.” Charle sê Phil Magakoe, ‘n fotograaf by die Pretoria News, is Maandag deur veiligheidswagte aangeval tydens Winnie Madikizela-Mandela se besoek aan die hospitaal. Hy sê Magakoe was deel van ʼn groep fotograwe wat probeer het om ʼn foto te neem van Madikizela-Mandela. Die aanval het glo plaasgevind toe Madikizela-Mandela reeds buite sig was. “Die veiligheidswag het verslaggewers gevloek en gedreig. Magakoe is deur die gesig geslaan en sy kamera is op die grond gegooi en duisende rande se skade is aan die kamera en lens aangerig.” Charle het die feit verwelkom dat Magakoe aanklagte van aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging by die polisie aanhangig gemaak het. “Die tipe gedrag hoort nie in ons land nie, veral nie wanneer die land bid vir ons siek oudpresident nie.” Charle sê verslaggewers doen net hul werk deur die wêreld op hoogte te hou oor die welvaart van Mandela. Die hospitaal en polisie kon nie onmiddellik vir kommentaar bereik word nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.