Aardbewing in Guatemala saai dood en verwoesting

Foto: AFP

‘n Aardbewing van magnitude 7,4 in die Stille Oseaan aan die kus van Guatemala het die lewe van minstens 48 mense geëis, terwyl tientalle beseer is.

Die aardbewing se episentrum was 35 kilometer van die dorp Champerrico. Die aardbewing het op ‘n verlenging van die San Andreasfout voorgekom, waar tektoniese plate mekaar ontmoet. Die San Andresfout loop deur Kalifornië, en sny deur San Francisco.

Op 28 Oktober het ‘n aardbewing van M 7,7 op ‘n noordelike verlenging van die fout plaasgevind, toe die Kanadese Koningin Charlotte-eiland getref is. ‘n Tsnunami-waarskuwing is toe aan Hawaii uitgereik en duisende mense is ontruim, maar die golf wat die eilande bereik het, was te klein om skade aan te rig.

Met die groot aardbewing by Guatemala het die Passifiese tsunami-waarskuwingsentrum bloot ‘n boodskap uitgestuur, maar gemeld dat ‘n tsunami nie verwag word nie. Mense is ook in die buurland, Meksiko uit hul huise ontruim. Onlangs is sowat 10 000 mense in Guatemala aangeraai om hul huise te ontruim toe ‘n vulkaan lang lawastrome uitgespuug het.

Die jongste aardbewing is die ergste in Guatemala sedert 1976 toe 20 000 mense omgekom het.

Dié aardbewing is die jongste van ‘n reeks sterk aardbewings in dieselfde omgewing. Op 27 Augustus het ‘n aardbewing van M 7,3 aan die kus van El Salvador voorgekom, en 5 September een van M7,6 by Costa Rica wat ook deur die Suid-Afrikaanse tennisspeler, Rik de Voest, beleef is.

Kort na die groot aardbewing by Guatemala het nog ‘n grote op die foutlyn in Kanada voorgekom, toe ‘n skudding van M6,3 186 kilometer van Port Hardy af in die see voorgekom het.

Hoewel Kalifornië, Oregon en Washingtonstaat in die VSA nou kort na mekaar weerskante van Amerika groot aardbewings op die foutlyn beleef het, spring die VSA allesbehalwe aardbewing vry. Onder die talle ligte skuddings, is ‘n skudding van M 4,2 aan die kus van Oregon die sterkste. Twee ligte aardbewings het weerskante van Los Angeles voorgekom. Die sterkste onlangse skudding van meer as M 5 het net mooi halfpad tussen San Francisco en Los Angeles in ‘n ylbevolkte gebied voorgekom.

In ‘n interessante studie wat pas bekend gemaak is, het die USGS vasgestel dat ofskoon aardbewings aan die Amerikaanse ooskus veel minder as aan die weskus voorkom en selde sterk is, kan hul impak veel verder gevoel word.

Verlede jaar se skudding van M5,8 in Virginië wat ook in Washington DC skade aangerig en tot in New York gevoel is, het grondverskuiwings tot 245 kilometer van die episentrum veroorsaak.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.