Aardbewing skud Laeveld

Die episentrum van ʼn Laeveldse aardbewing het Sondag reg langs Vygeboomdam naby Badplaas plaasgevind, het Beeld berig.

Die aardbewing, wat 4.7 op die Richterskaal registreer het, is tot in Komatipoort en gedeeltes van Swaziland gevoel, maar geen noemenswaardige skade is aangemeld nie.

“Dit het gevoel of my huis skud,” het Helen Schormann van Schagen, wat sowat 20km buite Nelspruit op ʼn plaas woon, gesê. ʼn Waterpyp in haar tuin het ook gebars, alhoewel dit nie seker is of dit ʼn direkte gevolg van die skuddings is nie.

Phillip Owen, eienaar van die Sudwala-grotte, het gesê, sover hulle weet, is die grotte nie beskadig nie.

Die kragtige skudding het Sondag net voor 17:00 met ʼn gerammel begin.

Volgens die Europese Mediterreense Seismologiese Sentrum in Frankryk, het die aardbewing sowat 5km onder die aarde se kors plaasgevind. ʼn Aardbewing, wat 4 op die Richterskaal registreer het, het presies een jaar gelede Swaziland en die Oostelike Hoëveld getref. Die aardbewing se episentrum was by die Magugadam in Swaziland.

-SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.