Aardbewingsterftes en skade meer as voorheen gemeen

Tsunamiskade op die eiland Temotu. Foto: AP

Terwyl nog talle mense vermis word na ‘n aardbewing van magnitude 8 die Solomoneilande op 6 Februarie getref het, staan die dodetal reeds op nege.

Boonop het ‘n baie sterk naskok van M7 pas net 10 kilometer onder die oppervlak voorgekom, net so sterk as ‘n naskok twee dae gelede. Die hoofskok is presies tien keer so sterk as die twee bielie-naskokke. Dit is ongewoon dat naskokke M7 of meer haal. Dit blyk ook dat die skade as gevolg van ‘n tsunami erger was as wat voorheen gemeen is, en dat tot 20 dorpies verwoes is. Erge naskokke en skade aan aanloopbane maak vlieëniers lugtig om te land, wat reddingswerk bemoeilik.

Die Solomoneilande is op ‘n tektoniese raakvlak geleë wat deel van die Ring van Vuur uitmaak. In 2007 is die eilande ook deur ‘n skudding van M8 geruk, en het die daaropvolgende tsunami 52 mense se dood veroorsaak.

Intussen is Nederland in rep en roer oor twee aardbewings wat kort na mekaar in die noorde van die land voorgekom het. Heelwat ligte skade aan geboue is aangeteken. Die aardbewings volg kort na daar ontsteltenis was toe ‘n Amerikaanse verslag aangetoon het dat daar ‘n skerp toename van ligte aardbewings in die sentrale en ooste van die VSA is waar skaliegas onttrek word. Heelwat gas word in Groningen ontgin naby die plekke waar die aardbewings voorgekom het. ‘n Onlangse verslag het ook ‘n verband tussen die gasherwinning en aardbewings in die gebied aangetoon. Soortgelyke ligte aardbewings kom egter ook periodiek in ander dele van Nederland voor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.