AB de Villiers haak die knoop deur

AB de Villiers en Danielle Swart by die Taj Mahal net nadat hulle verlede jaar in April verloof geraak het. Foto: am2pmnews.com

Krieketspeler AB de Villiers en sy verloofde, Danielle Swart, het Saterdag in Johannesburg getrou.

Verskeie spanmaats van De Villiers, insluitend Dale Steyn, het gereedgemaak vir dié seremonie. De Villiers sal na verwagting oor ‘n paar dae in Bangalore aankom vir die wedstryd van IPL6 teen die Mumbai Indians op 4 April by M Chinnaswamy-stadion.

Geen besonderhede is oor die troue bekendgemaak nie, berig sports.ndtv.com

Swart (24) bly en werk in Kaapstad. Sy het De Villiers ses jaar gelede by haar pa se gastehuis buite Bela-Bela in Limpopo ontmoet. Sy het verlede jaar met ‘n Indiese koerant gesels en gesê sy is mal oor AB en hul verhouding. “Ons families is baie goeie vriende. Om die waarheid te sê, ek het AB op my pa se plaas ontmoet en oor die jare het ek hom baie goed leer ken en baie respek vir hom gehad,” het Swart gesê. “AB is so anders wanneer hy nie speel nie. Ek is mal oor sy sin vir humor en hoe geheg hy aan sy familie is. Hy is ‘n familie-mens en is baie naby aan hulle en deel alles met hulle, wat deesdae ‘n seldsame kwaliteit is.”

Hulle het oor die afgelope ses jaar ‘n hegte vriendskap opgebou, maar die liefde het eers twee jaar gelede begin blom. Swart het De Villiers verlede jaar na Graeme Smith en die Ierse popster Morgan Deane se huwelik vergesel. Die paartjie het besluit dat hulle hul privaatlewe uit die openbaar wil hou en die besonderhede rondom die huwelik is dus stil gehou.

Suid-Afrika se kriekettoetskaptein, Graeme Smith, het getwiet: “Troukoors! Gelukkige gelukkige gelukkige troudag aan @DanielleSwart27 en @ABdeVilliers17 Dit gaan ‘n wonderlike dag wees #liefde”

JP Duminy het laat weet hy is oppad na Johannesburg vir die seremonie. Dié linkshandige speler het geskryf: “Oppad na JHB vir die troue van die jaar! Wat gebeur met die Proteas? Hulle val soos vlieë. Haha! Geluk @ABdeVilliers17 #bestedagooit

Dale Steyn het op sy twitterblad ‘n foto van ‘n plaaslike koerantberig oor die troue aangeheg en geskryf: “Oppad na JHB vir hierdie ou se troue. Gaan ‘n opwindende 24 uur wees!”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.