ABSA trek bedankingsbriewe terug

Die finansiëledienstevakbond Sasbo, wat die meerderheid ABSA-werknemers verteenwoordig, het pas bekend gemaak dat die bank ingestem het om die bedankingsbriewe van die bank se IT-afdelings terug te trek.

Dit volg na verskeie werknemers op 7 Mei om 15:20 ’n brief per e-pos ontvang het waarin hulle meegedeel is dat pogings om ander poste vir hulle te kry, onsuksesvol was. Op 8 Mei moes hulle, ter wille van onbelemmerde uitdienstreding, vorms invul waarmee hulle uit hul mediese- en pensioenfondse moes bedank asook ’n vorm waarmee hulle uit die maatskappy bedank. Die e-pos het hulle in kennis gestel dat hulle op 9 Junie afgedank gaan word.

Sasbo het Saterdagaand ʼn dringende vergadering met ABSA gehou. Hulle het hul ontevredenheid uitgespreek oor hoe die aangeleentheid hanteer is.

“Ons is veral verontwaardig dat hulle die werknemers met eposse in kennis gestel het. Die unie het geëis dat ABSA alle bedankingsbriewe vandag terug trek,” het Comfort Duma, Sasbo se assistent-hoofsekretaris, gesê.

Volgens Duma het ABSA in ʼn brief onderneem om aan die eis te voldoen en samewerking belowe om die aangeleentheid verder te bespreek.

Intussen het die vakbond Solidariteit vandag ook die aankondiging verwelkom. Dit volg op ’n dringende brief van Solidariteit aan Absa verlede week waarin die vakbond óók daarop aangedring het dat die bank die afleggingskennisgewings asook vorms waardeur werknemers uit die maatskappy moes bedank, terugtrek.

“Absa se aankondiging dat hulle die brief terugtrek, is ’n groot stap in die regte rigting en is inderwaarheid ’n erkenning van hulle onmenslike gedrag,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

“Werknemers wat die bedankingsvorm ingevul het, het bedank en sal gevolglik nie op enige skeidingsloon of werkloosheidsversekering geregtig wees nie. Daarom het Solidariteit ’n beroep op werknemers gedoen om nie die bedankingsvorm in te vul nie en ’n ernstige brief aan Absa oor dié vorm gerig. Indien iemand so ’n bedankingsvorm ingehandig het, beteken dit regstegnies dat hy sonder ’n sent daar sal wegstap, al het hy 40 jaar vir die bank gewerk,” het Hermann gesê.

Hoewel Absa die afleggingskennisgewings teruggetrek het, is dit nie duidelik of die bank die bedankingsvorms ook teruggetrek het nie.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.