Absa-werknemers word per e-pos gepos

Werknemers van Absa is die afgelope week per e-pos in kennis gestel dat hulle op 9 Junie afgedank gaan word. Dit kom ten spyte van Absa se volgehoue ontkenning dat hulle afleggings uitvoer. Minstens 140 werknemers in die IT-afdeling gaan hulle werk verloor. Die vakbond Solidariteit het bewyse dat die afleggings wyer as net die IT-afdeling strek, maar Absa swyg steeds oor hoeveel mense op 9 Junie afgedank gaan word. Absa het nog verder gegaan en vorms aan werknemers gestuur waarmee hulle uit die maatskappy moet bedank.

“Ons is verstom oor Absa se onmenslike hantering van die proses. Eers is werknemers gedwing om hulle besittings in houers te pak en uit Absa se gebou begelei. Hulle is vir drie maande huis toe gestuur vir sogenaamde “tuisverlof” terwyl daar gepoog sou word om hulle in ander afdelings in die maatskappy te plaas. Nou word hulle per e-pos by die huis afgedank,” het Dirk Hermann, adjunk uitvoerende hoof van Solidariteit, gesê.

In die brief aan die werknemers word hulle versoek om ’n vorm in te vul om uit Absa te bedank. Die vorm se opskrif lui “Kennisgewing van uitdienstreding” en die werknemers moet dan die datum van hulle bedanking daarop invul.

“As werknemers hierdie vorm invul en onderteken, dan is dit nie meer ’n geval van aflegging nie, maar bedanking. Die werknemers sal gevolglik nie geregtig wees op enige skeidingsloon of werkloosheidsversekering nie.

“Regstegnies beteken dit dat iemand wat vir 40 jaar by Absa gewerk het, sonder ’n sent daar sal wegstap,” het Hermann gesê.

Solidariteit het ’n beroep op werknemers gedoen om nie die vorm in te vul nie.

Werknemers het op 7 Mei 2012 om 15:20 ’n brief per e-pos ontvang waarin hulle meegedeel word dat pogings om ander poste vir hulle te kry, onsuksesvol was. Op 8 Mei moes hulle, ter wille van onbelemmerde uitdienstreding, vorms invul waarmee hulle uit hulle medies en pensioen bedank asook ’n vorm waarmee hulle uit die maatskappy bedank. Hulle moet ook al die eiendom van die werkgewer wat in hulle besit is, gaan inhandig. “Hierdie is dus ’n geval van dat hulle “today” moes hoor dat hulle “tomorrow” moet “goodbye” sê,” volgens Hermann.

In die brief word werknemers bedank vir hulle waardevolle bydrae binne Absa en voorspoed toegewens.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.