Die sanger Adam Tas se babadogtertjie is Maandagoggend gebore.
Adam Tas, oftewel Francois van der Merwe, het Maandag omstreeks 10:00 getweet: “Klara-belle is gebore, 3.25kg en sy is gesond. Die Here is groooooot,” [sic]
Francois en sy vrou, Caren, het tydens die swangerskap met die vrees saamgeleef dat Klara-Belle dalk met trisomie 13, of Patau-sindroom, gebore kon word. Trisomie 13, is ’n chromosoomafwyking wat by een uit elke 10 000 babas voorkom. Dit kon moontlik verskeie lewensgevaarlike mediese probleme soos ’n hartkwaal of breinskade tot gevolg gehad het.
Adam het Maandagoggend ook op Twitter geskerts: “Teater toe, hierdie is beter as enige ‘ride’ by Goldreef City.”
“Ons het ʼn SMS van die egpaar ontvang dat alles goed gegaan het en dat die babatjie gesond is. Ons is baie opgewonde vir hulle,” het Wendy van Niekerk, ʼn woordvoerder van Select Musiek, aan Maroela Media bevestig.