Adjunkminister sê Nkandla-gate is verregaande

Jeremy Cronin. Foto: polity.org.za

Jeremy Cronin, adjunkminister van openbare werke, is angstig vir ʼn verduideliking vir die “ooglopend verregaande” koste van die R206 miljoen se opgraderingswerk aan president Jacob Zuma se privaatwoning in Nkandla.

Cronin het Woensdag tydens ʼn onderhoud met Talk Radio 702 gesê dit is “ooglopend verregaande en moeilik om te regverdig”.

“Ek is baie angstig vir die gesamentlike staande komitee oor intelligensie om dit ten volle aan ons te verduidelik. Nie net vir die departement van openbare werke nie, maar ook die sekuriteitgroep van departemente.”

Cronin het reageer nadat Lindiwe Mazibuko, die DA se parlementêre leier, haar kommer uitgespreek het oor hoe Cronin se hoof, minister Thulas Nxesis, ʼn verslag oor hoe die geld bestee is geklassifiseer het. Nxesis het die verslag na die parlement se gesamentlike staande komitee oor intelligensie gestuur, wat agter geslote deure vergader en wie se lede aan geheimhouding onderworpe is. Die DA het verwag dat die verslag in die parlement bespreek gaan word.

Nie net soek die DA antwoorde oor hoe die geld spandeer is nie, die party wil ook weet hoe die verslag geklassifiseer is.

Mazibuko het gesê die party verstaan dat inligting oor die veiligheidsaspekte van die woning nie bekendgemaak kan word nie, maar die oprig van ʼn snoepwinkel en ander strukture, wat nie tot veiligheid bydra nie, is ook betrokke. Die party voer aan dit is nie ʼn geval of Nkandla ʼn nasionale sleutelpunt is nie, maar eerder of tenderbedrog ondersoek word.

Cronin het gesê dat hy nie weet hoe die verslag geklasifiseer is nie en dat hy dit nog nie onder oë gehad het nie.

“Ons probeer dit nie toesmeer nie, maar ʼn mens moet besef dat die wettige veiligheidsvoorsorgmaatreëls van die huis wél ʼn sensitiewe saak is,” het Cronin bygevoeg.

Cronin het gesê die departement het reeds ernstige ongerymdhede in die tenderproses ontbloot, maar dat daar eers sin daarvan gemaak kan word as daar na die omvang van al die werk wat nodig is, gekyk word.

– Sapa

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

william ·

Iemand se bankrekening moes weer n goeie spring kry uit die staatskas.en ons dom Suid Afrikaners moet maar bly belasting betaal.Wanneer gaan die sirkus eendag aanskuif na sy volgende staan plek.Ek hoop net hulle vat hulle klomp narre saam

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.