Adv. wat deur taxi gesleep is nie dood

Kim McCusker en haar verloofde, Lourens Grobler. Foto: Facebook

Die Randburg landdroshof het Dinsdag tydens die verskyning van die taxibestuurder wat adv. Kim McCusker glo omgery en honderde meters ver gesleep het, gehoor dat die polisie gerugte dat McCusker dood is sal ondersoek.

Matome Thamage (30) sal op 30 Maart weer in die hof verskyn. Die staatsaanklaer, Mahlogonolo Mashiane, het gesê die polisie sal gerugte dat McCusker dood is ondersoek. McCusker se pa, Douglas, het in ʼn telefoonoproep na die hofverrigtinge gesê daar is geen waarheid aan die gerugte nie. “Sy is by die huis…lewendig en sy doen baie goed.” McCusker is op 13 September deur ʼn taxi omgery en sowat 700m ver gesleep. Thamage is vroeër op borgtog van R5 000 vrygelaat. Thamage het glo amper in McCusker en Grobler se motor vasgery. Thamage beweer hy het van die toneel probeer vlug nadat Grobler hom glo aangerand het.

Maroela Media het vroeër die maand berig dat McCusker (26) op haar ondersteuningsgroep op Facebook die publiek bedank het vir hulle ondersteuning. “Dit is met dankbaarheid dat ek my waardering uitspreek vir jul besorgdheid, belangstelling, ondersteuning en gebede oor die afgelope paar maande sedert die taxi-voorval. Alhoewel dit ʼn lewensveranderende gebeurtenis vir my en my geliefdes was, is ek dankbaar om te leef hoewel dit my fisies erg leed besorg het. Ek het besluit om die voorval te gebruik om my positief te motiveer en ek is meer as ooit vasbeslote om suksesvol te wees in dit wat ek graag wil bereik en alles wat ek aanpak. Ek sterk goed aan en hoop om so gou as moontlik terug te keer na normaal. Ek ontvang steeds twee keer per week intensiewe fisioterapie om weer normaal te kan beweeg en ek moet binnekort ʼn knie-operasie ondergaan. Ek is steeds gereeld in pyn en verduur ongemak, maar dit is stadigaan besig om al hoe minder te word en ek hoop dat dit ook spoedig iets van die verlede sal wees. Weereens, baie dankie. Goed gaan.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.