Advokaat Barbie wen eerste rondte

Cezanne Visser, ook bekend as Advokaat Barbie

Cezanne Visser, die voormalige advokaat wat ook as ‘Advokaat Barbie’ bekendstaan, het die eerste rondte in ‘n hofstryd om vrygelaat te word, gewen.

Visser dien tans ‘n 7-jaarlange vonnis uit nadat sy jong meisies en vroue onsedelik aangerand het, kinderpornografie vervaardig en besit het, en ‘n kinderhuis bedrieg het. Visser het in Mei 2010 haar vonnis begin uitdien nadat die hoogste hof van appèl haar appèlaansoek afgekeur het.

Visser het ‘n hersieningsaansoek by die Pretoriase hooggeregshof ingedien nadat die paroolraad in Augustus bevind het sy is nie ‘n geskikte kandidaat om haar vonnis in korrektiewe toesighouding te verander nie. Regter Tati Makgoka het Vrydag dié besluit ter syde gestel.

Hy het die Saakhanteringskomitee beveel om alle betrokke dokumentasie binne die volgende 21 dae voor te berei, insluitend verslae deur Visser se maatskaplike werker en sielkundige. Die paroolraad is beveel om Visser se geskiktheid te oorweeg sodat haar vonnis moontlik voor 31 Januarie 2013 na korrektiewe toesig verander kan word.

Die paroolraad het bevind dat Visser die volle vonnis moet uitdien weens die erns van die misdaad, die aantal slagoffers betrokke en die negatiewe impak wat die misdaad op die gemeenskap en kinderslagoffers gehad het. Die raad het gesê dat Visser, as ‘n advokaat, slagoffers verraai het deur haar vertrouensposisie te misbruik en “arm, benadeelde kinders” mislei het.

Visser se advokaat voer aan dat sy ‘n “model gevangene” is en dat die raad bevooroordeel is. Sy het aan ‘n geregtigheidsprogram deelgeneem, ‘n sertifikaat in ‘n vaardigheidsontwikkelingsprojek ontvang, en is as ‘n opleier in die gevangenis vir volwasse basiese onderrig in Engels aangestel.

Makgoka het bevind dat die raad se besluit willekeurig en wispelturig was omdat die besluit sonder al die voorgeskrewe inligting, insluitend die jongste verslae deur die maatskaplike werker en sielkundige, geneem is.
Die siening van die slagoffers en hul families moet ook in ag geneem word.

Makgoka het gesê dit is duidelik dat die slagoffers hul reg om verteenwoordiging wil uitoefen en is nie oor die paroolraad se sitting ingelig nie.

Toegang tot die slagoffers sal deur ‘n prokureur, wat twee van die jong slagoffers verteenwoordig, gefasiliteer word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.