Absa het Donderdagaand op aantygings gereageer ná hulle deur die vakbond Solidariteit oor beweerde e-pos afdankings aangevat is en het gesê hulle “bestuur” die uittrede van sommige van hul IT-werkers. Hulle het ook ontken dat hulle met massa afleggings besig is.
Die vakbond het gister laat weet sommige werknemers van Absa is die afgelope week per e-pos in kennis gestel dat hulle op 9 Junie afgedank gaan word. Dit kom glo ten spyte van Absa se volgehoue ontkenning dat hulle tans afleggings uitvoer. Minstens 140 werknemers in die IT-afdeling gaan hulle werk verloor. Die vakbond het bewyse dat die afleggings wyer as net die IT-afdeling strek, maar Absa swyg steeds oor hoeveel mense op 9 Junie afgedank gaan word.
Verskeie werknemers het glo op 7 Mei 2012 om 15:20 ’n brief per e-pos ontvang waarin hulle meegedeel is dat pogings om ander poste vir hulle te kry, onsuksesvol was. Op 8 Mei moes hulle, ter wille van onbelemmerde uitdienstreding, vorms invul waarmee hulle uit hul mediese- en pensioenfondse moes bedank asook ’n vorm waarmee hulle uit die maatskappy bedank.
Business Live berig Absa het laat weet hulle het die betrokke werknemers in die IT-afdeling die nodige ondersteuning oor die afgelope drie maande gebied en het protokol gevolg om die impak van die situasie te verlig.