Aflegging van Denel se 523 vliegtuigspesialiste bevestig

Rooivalk

Die vakbond Solidariteit het Donderdag ’n skriftelike afleggingskennisgewing ontvang wat bevestig dat die moontlikheid bestaan dat tot 523 vliegtuigspesialiste by Denel Aviation/AMG afgelê gaan word omdat die Suid-Afrikaanse lugmag (SALM) sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met die maatskappy gekanselleer het.

Die vakbond het vandag ʼn formele artikel 189-kennisgewing ontvang en die eerste afleggingskonsultasie sal op 14 Januarie 2013 plaasvind.

Volgens Jack Loggenberg, woordvoerder van Solidariteit, is dié aankondiging baie slegte nuus vir die 523 Denel-werknemers wat deur die afleggings geraak gaan word. “Daar is egter nog steeds nie duidelikheid oor hoeveel werknemers afgelê gaan word nie. Daar kan kwalik ’n slegter tyd van die jaar wees om sulke nuus oor te dra. Hierdie werknemers is landwyd by verskillende eskaders gestasioneer. Hulle gaan waarskynlik binne maande nie net hulle werk nie, maar ook hulle lugmagbehuising kwyt wees,” sê Loggenberg. “Daar hang nou ’n donker wolk oor 523 gesinne se Kerstyd wat tradisioneel ’n tyd vir ontspanning en uitspan saam met vriende en familie is.”

Intussen het die SALM steeds nie ’n woord gerep oor die moontlikheid om van Denel se tegnici se dienskontrakte oor te neem nie. Volgens Loggenberg het die vakbond begrip hiervoor as gevolg van die lugmag se benaderde finansiële posisie. Hy sê indien die lugmag van die dienskontrakte oorneem, ’n artikel 197-kennisgewing ook uitgereik moet word vir die oordrag van die kontrakte. Ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge moet werknemers se diensvoorwaardes en vergoeding op dieselfde vlak gehou word wanneer hulle dienskontrakte oorgedra word. “Ons is bekommerd dat die lugmag, om geld te bespaar, gaan wag totdat al die werknemers afgelê is sodat hy waarskynlik sommige van hulle teen ’n laer salaris kan aanstel om dieselfde werk te verrig.”

Loggenberg sê verder daar is ook nog nie duidelikheid oor die geskil tussen Denel Aviation/AMG en die lugmag oor wie verantwoordelik sal wees vir die betaling van die personeel wat afgelê gaan word se skeidingspakkette van miljoen rande nie. “Ingevolge die kontrak sal die lugmag verantwoordelik wees vir die betaling van skeidingspakkette indien afleggings uit sy kontrak met Denel Aviation/AMG sou spruit. Of die lugmag verantwoordelik sal wees vir die uitbetaling van skeidingspakkette nadat die kontrak verstryk het, word egter bevraagteken. Denel Aviation/AMG meen dat die lugmag steeds verantwoordelik sal wees om die skeidingspakkette te betaal.”

Die departement van verdediging het op 20 Junie 2011 kennis gegee dat hy sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met Denel Lugvaart/AMG gaan kanselleer. Onderhandelinge het plaasgevind om die kontrak te wysig en moontlik te hersien, maar verlede maand het die lugmag onverwags in ’n brief te kenne gegee dat hy sy besluit hersien het en nie met die nuwe kontrak met Denel Aviation/AMG ná 31 Maart 2013 sal voortgaan nie.

Lees ook:

Slegte nuus vir 523 Denel-vliegtuigspesialiste

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.