Afleggings by 1time vir eers gestaak

Foto: Reint Dykema

Konsultasies met die vakbond Solidariteit oor die moontlike aflegging van nagenoeg 25% van Jetworx se werkmag weens die finansiële probleme van die laekoste-lugdiens 1time Holdings, is Woensdag tydelik gestaak nadat ’n ondernemingsreddingspesialis aangestel is.

1time Holdings het Jetworx, sy bedryfsfiliaal en instandhoudingsvleuel, asook sy ander bedryfsfiliaal, die lugdiens 1time Airline, in ’n proses van ondernemingsredding geplaas. Volgens Marius Croucamp, woordvoerder van Solidariteit, het die vakbond reeds in Junie ’n artikel 189-kennisgewing van Jetworx ontvang. “Ons is egter gister tydens konsultasie meegedeel dat die proses vir eers gestaak is vanweë die aanstelling van ’n ondernemingsreddingpraktisyn. Die praktisyn moet nou ’n plan vir die herfinansiering en herstrukturering van die maatskappy opstel. Die maatskappy sal ook die geleentheid kry om ’n sakereddingsplan te ontwikkel en in te stel en om terselfdertyd sy bedrywighede voort te sit. 1time Holdings, Jetworx en die ondernemingsreddingspraktisyn gaan per brief versoek word om Solidariteit by die proses te betrek.”

Croucamp het gesê Jetworx het reeds sowat 15 werknemers afgelê voor dit deur 1time Holdings in ’n proses van ondernemingsredding geplaas is. “Die werknemers is afgelê weens ’n diensverskaffingskontrak wat beëindig is. Luidens Jetworx se artikel 189-kennisgewing kan sowat 25% van die maatskappy se 400 werknemers geraak word. Solidariteit het intussen die hoop uitgespreek dat die ondernemingsreddingsplan dié en verdere afleggings sal voorkom,” het Croucamp gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.