Afleggings by Denel onafwendbaar

Die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) het bevestig dat hy geen van die 523 vliegtuigspesialiste by Denel Aviation/AMG se dienskontrakte gaan oorneem nie en dat sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met die maatskappy op 31 Maart ten einde loop. Hierdie onthulling is Maandag tydens die eerste afleggingskonsultasie gemaak en afleggings by Denel as gevolg van die lugmag se besluit blyk nou onafwendbaar te wees, het die vakbond Solidariteit vandag gesê.

Volgens Jack Loggenberg, woordvoerder van Solidariteit, het die SALM gister tydens die konsultasie telefonies bevestig dat hy nie van plan gaan verander nie en dat die kontrak nie hernieu sal word nie. Loggenberg sê hoewel die SALM formeel bevestig het dat hy geen van die 523 vliegtuispesialiste by Denel Aviation/AMG gaan oorneem nie, die moontlikheid bestaan dat hy gaan probeer om van die werknemers individueel te werf. “Ons vermoed dat die SALM nie in formele konsultasie met die vakbonde betrokke wil raak nie. Die lugmag wil waarskynlik ontslae raak van die kontrak met Denel omdat dit baie duur is. Indien die lugmag van die dienskontrakte sou oorneem, sou ’n artikel 197-kennisgewing ook uitgereik moes word vir die oordrag van die kontrakte. Ingevolge artikel 197 van die Wet op Arbeidsverhoudinge moet werknemers se diensvoorwaardes en vergoeding op dieselfde vlak gehou word wanneer hulle dienskontrakte oorgedra word. Ons vermoed dus dat die lugmag, om geld te bespaar, gaan wag totdat al die werknemers afgelê is sodat hy waarskynlik sommige van hulle teen ’n laer salaris kan aanstel om dieselfde werk te verrig.”

“Aangesien die lugmag bevestig het dat hy geen van die 523 vliegtuigspesialiste by Denel Aviation/AMG gaan oorneem nie, probeer ons nou om deur middel van die konsultasies die werknemers binne Denel of ander maatskappye te herontplooi. Ons hoop om die konsultasieproses teen 14 Februarie af te handel ten einde die diensbeëindigsdatum van 31 Maart na te kom. Geen van die werknemers sal Denel Aviation/AMG voor dan kan verlaat nie, aangesien die maatskappy sy kontraktuele verpligtinge met die lugmag tot 31 Maart moet nakom.”

Loggenberg sê die topbestuur van Denel het alles moontlik gedoen om die kontrak met die SALM te probeer red. Solidariteit verteenwoordig 208 van die 523 vliegtuigspesialiste. Hierdie werknemers is landwyd by verskillende eskaders, waaronder Hoedspruit, Lephalale (Ellisras), Louis Trichardt, Bredasdorp, Ysterplaat en Langebaan, gestasioneer. Nagenoeg 40% van die vliegtuigspesialiste is in Pretoria gestasioneer. Die departement van verdediging het op 20 Junie 2011 kennis gegee dat hy sy kontrak vir vliegtuiginstandhouding met Denel Lugvaart/AMG gaan kanselleer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.