Afleggings in Telkom dreig ná regering groot transaksie verwerp

Telkom het Vrydag bekend gemaak dat planne om met die Suid-Koreaanse KT Corporation (Korea Telecom) in ʼn vennootskap te tree, nie gaan plaasvind nie omdat die regering dit nie wil ondersteun nie.

KT Telecom, Korea se grootste telekommunikasie-maatskappy, het verlede jaar op 14 Oktober hul eerste aanbod vir ʼn 29%-aandeel in Telkom gemaak nadat die regering hierdie transaksie aan Telkom voorgestel het. KT Telecom sou ook “bestuurde dienste” aan Telkom bied en ook van Telkom se funksies oorgeneem het.

Telkom sê in verslag hulle is die week deur minster Dina Pule in kennis gestel dat die kabinet besluit het om nie dié transaksie te ondersteun nie.

Die vakbond Solidariteit het hom vandag sterk teen die kabinet se besluit uitgespreek. Dit is na ʼn vorige verklaring waarin Solidariteit die regering aangeraai het om die transaksie goed te keur weens die groot inspuiting van kapitaal en kundigheid wat dit vir Telkom kan beteken.

“Dit gaan die verstand te bowe dat die regering, wat die transaksie aan Telkom voorgestel het, nou die transaksie sonder enige redes afkeur, veral in die lig daarvan dat regeringsbeleid op die oomblik veronderstel is om op werkskepping te fokus,” het Marius Croucamp, bestuurshoof van die Kommunikasie-, Chemiese en Professionele bedrywe by Solidariteit, gesê. “Die slegte beeld van Suid-Afrika wat deur hierdie besluit aan KT Telecom voorgehou is, sal uiters moeilik wees om te herstel, “ het hy bygevoeg.

Indien die transaksie met KT Telecom nie plaasvind nie, kan dit daartoe lei dat Telkom weens ʼn gebrek aan kapitaal koste sal moet besnoei, wat kan lei tot afleggings van duisende werknemers.

Solidariteit steun as gevolg daarvan Telkom se aansoek om hersiening van hierdie besluit. Benewens die direkte impak wat moontlike afleggings op Telkom-werknemers en hul gesinne kan hê, maan Solidariteit ook teen die impak wat dit op dienslewering en instandhouding kan hê.

“Solidariteit sal self samesprekings met die minister aanvra om die ernstige implikasies van hierdie besluit te bespreek,” het Croucamp gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.