AfriForum-aansoek stuit R4 miljoen-betaling aan omstrede sakeman

geldDie Noord-Kaapse Hooggeregshof het gister ʼn tussentydse bevel aan AfriForum toegestaan waarin die betaling van R4,25 miljoen deur die Ga-Segonyana Munisipaliteit aan die omstrede sakeman, Wandile Bozwana, gekeer is. Die bevel is toegestaan, hangende ʼn aansoek wat binnekort deur AfriForum ingedien gaan word om die uitbetaling in die geheel te keer.

AfriForum het ʼn dringende aansoek ingedien nadat die organisasie bewus geword het van ʼn ooreenkoms op 16 September 2013 tussen die munisipale bestuurder, Edward Ntefang, en Bozwana vir die betaling van R4,25 miljoen. AfriForum meen dat Ntefang nie by magte was om die ooreenkoms te sluit nie aangesien die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur (Wet 57 van 2003) bepaal dat slegs ʼn burgemeester uitgawes mag aangaan wat buite die betrokke munisipaliteit se begroting val.

Die betaling sou vergoeding wees vir ʼn kooptransaksie in 2007 tussen die munisipaliteit en ʼn sakeman wat skeefgeloop het. Die hooggeregshof het in 2007 beslis dat die korrekte prosedure nie vir die vervreemding van die grond gevolg is nie en ontwikkeling is summier beëindig.

“TEB Properties, en die direkteur, Bozwana, is al redelik bekend vir hulle kooptransaksies en tenders wat skeefloop, en die eise vir vergoeding wat daarna ingestel word. Dit lyk asof dit sy modus operandi is,” sê Wesley Martin, organiseerder vir AfriForum in die Noord-Kaap. In Augustus 2013 is daar op soortgelyke wyse R7,2 miljoen van Tsantsabane Munisipaliteit op Postmasburg geëis. TEB Properties se regsverteenwoordigers het gister gesê mnr. Bozwana het die geld dringend nodig.

Die saak word op 5 Desember aangehoor.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

H J Bester ·

Hierdie mnr Bozwana lyk al te duidelik na ‘n opregte swendelaar wat, met ‘n goedbeplande foefie, daarin slaag om Munisipaliteit in sy slagysters te laat trap en dan massiewe bedrae te eis.

Dankie AfriForum dat julle bereid is om hierdie soort bedrieëry die nek om te draai deur dit in die howe te beveg. Julle optrede maak my trots dat ek lid van julle organisasie kan wees en maandeliks my lidfooie kan betaal.

Jaco ·

Wonder of mens nie die SCU by SARS moet vra om na Mnr Bobjana se sake te kyk soos sy comrade Juju nie? Dalk kan SARS met al die swendelaars se geld ons wettige burgers se belasting verminder of sommer vir die E Tol sage skrap.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.