AfriForum: ‘Alle munisipaliteite nou aanspreeklik’

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum

Die Noord-Gautengse Hooggeregshof in Pretoria het Donderdag in AfriForum se guns beslis dat ʼn kennisgewing in die Staatskoerant wat lae- en mediumkapasiteitmunisipaliteite van die Verbruikersbeskermingswet vrygestel het, tersyde gestel moet word.

Die kennisgewing is deur die minister van handel en nywerheid, Rob Davies, in die Staatskoerant geplaas. Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, sê die regter het beveel dat haar uitspraak oor 30 dae van krag word. “Dit is nie net ʼn oorwinning vir AfriForum nie, maar vir almal in die land wat keelvol is vir swak munisipale dienslewering,” het Kriel gesê. Kriel het bygevoeg dat AfriForum enige toekomstige kwytskeldings van munisipaliteite fyn sal monitor en nie sal huiwer om op te tree, sou onbillike kwytskeldings toegestaan word nie.

Kriel het ook gesê dat AfriForum se takke landswyd voortaan daarop sal fokus om die Verbruikersbeskermingswet te gebruik om wanfunksionerende munisipaliteite tot orde te roep. “Inwoners is kliënte van munisipaliteite en nie onderdane nie, en munisipaliteite moet inwoners se verbruikersregte respekteer.” Die wet, wat aan verbruikers verskeie regte verleen wanneer hulle nie dienste of goedere kry waarvoor hulle betaal nie, sal nou aan belastingbetalers ’n waardevolle wapen teen niepresterende munisipaliteite gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Danie Kriel ·

Baie geluk, Kallie, en Afriforum se regspan, met hierdie oorwinning. Die eensydige, onsinnige besluit van Davies is nou op sy kop omgekeer.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.