AfriForum: “ANC bevestig kwaadwillige houding jeens Afrikaans”

Die burgerregte organisasie, AfriForum, sê hy is gereed om regsaksie te neem oor die konsep Taalwet wat die ANC se “kwaadwillige houding jeens Afrikaans bevestig” en “ongrondwetlik” is.

AfirForum sê hy het met teleurstelling kennis geneem van die parlementêre portefeuljekomitee van Kuns en Kultuur se besluit om die weergawe van die konsep Taalwet so te aanvaar vir voorlegging aan die parlement. Volgens die konsep Taalwet moet nasionale staatsdepartemente en nasionale entiteite voortaan drie tale gebruik, waarvan twee sogenaamde voorheen gemarginaliseerde tale moet wees. AfriForum sê dit beteken dat die derde verpligte gebruikstaal Engels of Afrikaans sal wees, maar nie beide nie. “Aangesien die staat reeds tot so ʼn groot mate verengels het, is die kans dat Afrikaans bo Engels gekies sal word, gering.” Verskeie organisasies waaronder die FW de Klerk-stigting en die Vryheidsfront Plus het sterk uitgevaar teen die konsep Taalwet.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is die besluit ongrondwetlik en kan dit op verskeie regsgronde teengestaan word, sou die wet so aanvaar word. “Die ontkenning van Afrikaans is ʼn skending van die menseregte van alle Afrikaanssprekendes. Ons taal is onlosmaakbaar deel van ons identiteit en deur die taal te ontken en van haar regte te ontneem, word haar sprekers se regte insgelyks vertrap. AfriForum sal dit nie aanvaar nie en sal die saak nasionaal en internasionaal op alle moontlike vlakke beveg,” het Bailey bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.