AfriForum appelleer teen nuwe PTA-mynontwikkeling

Die beoogde myngebied in Doornpoort, Pretoria

AfriForum het ʼn appèl ingedien teen die beoogde mynontwikkeling in Doornpoort, Pretoria.

“AfriForum het die appèl teen die toekenning van prospekteerregte aanhangig gemaak. Verskeie besware is deur die publiek geopper, maar die departement van minerale het die reg in elk geval toegeken,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, gesê.

AfriForum het die volgende redes vir die appèl aangevoer:

• Die gebrek aan betekenisvolle openbare deelname deur die plaaslike gemeenskap
• Die risiko’s vir grondwater in die gebied
• Die bewese onvermoë van die Suid-Afrikaanse regering om beheer uit toe oefen, situasies te monitor en wetgewing toe te pas, en om maatskappye in die mynsektor aanspreeklik te hou vir sosiale en omgewingsimpak
• Die gebrek aan navorsing oor verskeie kritieke dissiplines wat met die mynontwikkeling verband hou, insluitend die sosiale, omgewings- en ekonomiese aangeleenthede
• Daar is ʼn vleiland op die eiendom
• Vorige studies oor die gebied het aangedui dat dit ekologies sensitief is
• Die beplanning vir uitbreiding van die Tshwane-gebied dui aan dat ontwikkeling in hierdie rigting gaan beweeg.

Volgens Martin Barnard, voorsitter van die Doornpoort-inwonersvereniging (DIV) is daar vrae wat nog beantwoord moet word. “Hoe kon die regte toegestaan word nadat dit duidelik geword het dat die aansoekproses nie behoorlik gevolg is nie? Meer as 3000 mense het teen die toekenning van die regte beswaar gemaak.”

“Dit is duidelik dat daar ʼn beduidende impak op die omgewing sal wees indien mynbou sou plaasvind,” het Barnard afgesluit.

AfriForum het ʼn petisie saam met die DIV opgestel, waarop 596 inwoners hul handtekeninge aangebring het. Die DIV het ook teen die prospektering en mynontwikkeling geappelleer.

Om by jou AfriForum-tak aan te sluit, SMS jou dorp se naam na 31336. 50c/SMS.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.