AfriForum begin veldtog teen regering se aanval op Afrikaans in skole

AfriForum het aangekondig dat hy vandag met ʼn omvattende veldtog teen die regering se hernieude pogings om Afrikaans as onderrigmedium uit skole te verdring, gaan begin.

Die veldtog, Red Afrikaanse Skole, volg nadat al drie die skole in Fochville wat nog Afrikaanse onderrig bied, glo deur die Gautengse departement van basiese onderwys ingelig is dat die departement hulle glo sal dwing om met die aanvang van die 2012-skooljaar, groepe Engelssprekende leerlinge te akkommodeer. Twee van die skole is glo reeds 100% vol, maar, volgens AfriForum steur die departement hulle nie daaraan nie en is glo ook nie bereid om te oorweeg om die Engelse leerlinge in een van die drie skole te akkommodeer of verder met betrokkenes oor die akkommodasie van die leerlinge te onderhandel nie.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, is dit onaanvaarbaar dat skole op dié wyse gedwing word om te verengels.  “Telkens word leerlinge wat in Engels onderrig wil word om politieke redes in ʼn Afrikaansmediumskool ingedwing en moet die skool op eie koste na ʼn parallelmediumskool omskakel.  Op die langduur word dit dan ʼn Engelsmediumskool en is daar al minder skole waar Afrikaanssprekende leerders op hulle internasionaal erkende reg van moedertaalonderrig binne ʼn Afrikaanse kulturele omgewing kan aanspraak maak.”

AfriForum se standpunt dat die onderwysowerhede spesifiek Afrikaanse skole teiken, word volgens Bailey gestaaf deur die feit dat daar landswyd nie ʼn enkele voorbeeld is van waar die minister of onderwysowerhede ingegryp het om ʼn enkelmedium Engelse sekondêre skool se taalbeleid te verander of te dwing om anderstalige leerlinge daar te akkommodeer nie. AfriForum sê dat hulle en ouers van Fochville die grootste simpatie met die massas kinders in hierdie land het wat nie toegang tot goeie onderwys het nie, maar die argument van toegang word glo telkens egter bloot as handige verskoning misbruik om Afrikaanse skole se taalbeleid te ondergrawe. “Die raskaart word dan ook deur die regering bygesleep hoewel Afrikaansmediumskole baie beslis nie net wit leerders akkommodeer nie. ʼn Kunsmatige behoefte aan Engelse onderrig word deur die regering geskep om ʼn anti-Afrikaanse agenda te bevorder,” het AfriForum gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

C Pretorius ·

Afriforum kan verseker wees van my steun; dit sluit ‘n ekstratjie in. Wanneer die rondte agter die rug is, is die volgende rondte belastingvrystelling vir die duisende rande skoolgelde wat ouers moet opdok, ‘n meer gebalanseerde beeld van die geskiedenis in die plek van die Dept se haatgeskiedenis en eerste plek op internasionale ranglys vir Wiskunde, wetenskappe esm.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.