AfriForum bekommerd oor matriekslaagsyfer – eis moedertaalonderrig

AfriForum het kennis geneem van die feit dat die matriekslaagsyfer van 67,8% in 2010 na 70,2% in 2011 gestyg het, maar het ernstige kommer uitgespreek oor die aantal leerders wat wel matriek bereik het.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dui Statistiek SA aan dat daar in 2000 ‘n totaal van 1 055 397 leerders in graad 1 was. Die staat se webwerf dui aan dat slegs 496 090 in 2011 vir matriek ingeskryf het. Van die groep het net 348 117 geslaag. “Dit beteken dat die slaagsyfer van 2000 se graad 1-leerders minder as 33% was. Die vraag is wat van die ander sowat 67% leerders geword het en hoe die toekoms lyk wat hulle in die gesig staar,” het Bailey gesê.

AfriForum beskou die gebrek aan moedertaalonderrig in Suid-Afrika as een van die vernaamste redes vir hierdie groot groep leerders wat nooit hulle skoolloopbaan voltooi nie.

Die direkteur-generaal van Basiese Onderwys, mnr. Bobby Soobrayan, het die gebrek aan taalvaardigheid van die matrieks wat wel geslaag het, tereg as ernstige kwessie uitgewys. Verder word voortdurend kommer uitgespreek oor die wiskunde- en wetenskapvaardighede van Suid-Afrikaanse leerders. Die deeglik bewese feit dat leerders nuwe konsepte en vaardighede die maklikste in hulle moedertaal aanleer, en dat hulle hierdie vaardighede dan later maklik na ‘n tweede taal soos Engels kan oordra, word deur die owerhede geïgnoreer. Geen moeite word gedoen om moedertaalonderrig wyer beskikbaar te maak en ouers in te lig oor die langtermyn voordele wat dit vir leerders inhou nie. Die mite dat Engelse onderrig aan leerders ‘n nasionale en internasionale voorsprong gee, word ook nie as onwaar ontbloot nie.

Bailey het gesê dat AfriForum ‘n beroep op ouers doen om hulle kinders by skole in te skryf waar hulle in hulle moedertaal onderrig kan word. Ouers word ook deur AfriForum versoek om in ‘n toenemende mate druk op die regering te plaas om gehalte onderrig in kinders se moedertaal te voorsien vir so lank as moontlik – selfs op tersiêre vlak. Waar moedertaalonderrig reeds beskikbaar is, moet ouers enige poging van die regering om dit in te perk, sterk teenstaan.

“Die matriekuitslae bevestig jaar na jaar dat leerders wat moedertaalonderrig ontvang, beter vaar as diegene wat hulle onderrig in ‘n tweede of derde taal kry,” het Bailey bygevoeg. “Dit is hoog tyd dat die regering erns maak van moedertaalonderrig en die jeug van Suid-Afrika sodoende bemagtig om hulle skoolloopbane en naskoolse studies met meer sukses te kan aanpak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.