AfriForum beoog stappe teen ANC-jeugliga

Ronald Lamola. Foto: Times Live

Die ANC-jeugliga gaan moontlik by die gelykheidshof aangekla word ná hulle Dinsdag boere gedreig het om saam te werk met grondhervormingsplanne óf die risiko van gewelddadige grondbesettings in die gesig staar.

Dié uitlatings is deur die liga se adjunk-president, Ronald Lamola, tydens ʼn werkswinkel by die St. George Hotel, in Pretoria, gemaak. “Die konstitusie moet ten gunste van grondbesetting verander. Al wat in ons pad staan is seksie 25 van die konstitusie,” het hy gesê. Seksie 25 verwys na eiendomsreg en set die voorwaardes van grondbesetting uit. Hy het voorts gesê die ANC moet nie verskoning vra om die konstitusie, wat slegs ʼn tweederdes meerderheid stem in die parlement nodig het, te verander nie.

Intussen het die burgerregte organisasie, AfriForum, laat weet hulle gaan die uitlatings ondersoek want dit grens aan haatspraak.

“AfriForum gaan opnames van die werkswinkel aanvra. Grepe uit ʼn nuuskonferensie tydens die geleentheid is gisteraand onder meer op kykNET se Afrikaanse nuus van e-tv uitgesaai,” het Willie Spies, AfriForum se regsverteenwoordiger, gesê.

Volgens Spies kom die uitlatings van Lamola nie net neer op haatspraak nie, maar val dit ook binne die definisie van die selfs ernstiger misdrywe van intimidasie en aanhitsing tot geweld.

Lamola het onder meer by name “die Van Tonders en die Van Der Merwes op die plase” gewaarsku dat hul veiligheid nie gewaarborg kan word nie.

“AfriForum beoog om Lamola by die gelykheidshof en by die polisie te verkla, ten einde te verseker dat opruiende uitlatings soos hierdie tot orde geroep word.  Meer besonderhede volg binnekort,” het Spies gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.