AfriForum bereik ooreenkoms met TUT oor busdiens vir gestremdes

Argieffoto

AfriForum verwelkom die toegewings wat die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) gemaak het om die kampus en studentevervoer meer toeganklik vir ʼn blinde student, Johan Venter en sy gidshond Ogzy, asook ander studente met spesiale behoeftes te maak. Venter het AfriForum om bystand genader omdat hy probleme met dié universiteit se busdiens ondervind het wat hom van sy onafhanklikheid ontneem het en hom en Ogzy in vernederende en selfs gevaarlike situasies laat beland het.

Volgens Stef Potgieter, hoof van AfriForum se afdeling vir mense met gestremdhede en bejaardes, het sy organisasie se regspan ʼn prokureursbrief aan TUT geskryf en ʼn ontmoeting met die universiteitsbestuur geëis om volhoubare oplossings te vind, sodat Venter, en persone in dieselfde posisie as hy, dieselfde regte as ander studente kan geniet. ʼn Vergadering het gevolg en TUT het aan al AfriForum en Venter se eise gehoor gegee. Die universiteitsbestuur het onderneem om alle busbestuurders wat vir studentevervoer gebruik word, deurlopend sensitiwiteitsopleiding te laat ondergaan. Die SA Gidshondvereniging sal hierby betrek word. Verder sal ten minste twee sitplekke per bus vir gesiggestremdes of studente met ander spesiale behoeftes gereserveer word. Plakkers is reeds in 41 van die busse aangebring om die reservering van die sitplekke aan te dui en die res sal ook binnekort gemerk word. Indien ʼn busbestuurder voortaan onregmatig teenoor gestremde studente optree, sal die universiteit se vervoerkoördineerders en die betrokke bestuurder verantwoordelik gehou word – prosesse wat aanspreeklikheid verseker, is reeds in plek en tugstappe word gewaarborg. Tot al hierdie maatreëls ten volle in werking is, is ʼn bestuurder en motor aan Venter toegewys om te sorg dat hy en sy gidshond ten alle tye toegang tot vervoer het.

Venter sê dat hy hoogs tevrede met die uitkoms is en dankbaar is vir die manier waarop AfriForum sy saak hanteer het.

Volgens Potgieter is AfriForum bly dat hulle lid se waardigheid nou erken word en hy dieselfde geleenthede as ander studente aan TUT kan geniet. Dit is egter jammer dat dit, soos so dikwels, eers gebeur het ná regsdreigemente en ʼn prokureursbrief met ultimatums afgelewer moes word. AfriForum sal die stappe wat TUT aangekondig het, asook die voortspruitende prosesse deurlopend monitor.

Potgieter beklemtoon dat AfriForum ʼn omgewing wil help skep wat vir mense met gestremdhede én afhanklike bejaardes akkommoderend en toeganklik is. AfriForum moedig alle persone met gestremdhede aan om diskriminerende optrede en toeganklikheidsprobleme by AfriForum aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae