AfriForum besorg oor matriekslaagsyfer, bepleit moedertaalonderrig

AfriForum het kennis geneem van die feit dat die matriekslaagsyfer van 70,2% in 2011 na 73,9% in 2012 gestyg het, maar het ernstige kommer uitgespreek oor die aantal leerders wat hulle matriekjaar suksesvol voltooi het.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, dui ʼn verslag van die onderwysdepartement wat in 2009 verskyn het aan dat ʼn totaal van 1 006 358 leerders in 2001 die eerste keer in graad 1 was.  Volgens die matriekuitslae wat vandag bekendgemaak is, het slegs 647 687 in 2012 vir die matriekeksamen ingeskryf (64,36%), waarvan net 73,9% geslaag het.  “Dit beteken dat die slaagsyfer van 2001 se graad 1-leerders minder as die helfte was.  Die vraag is wat van die ander leerders geword het en hoe die toekoms lyk wat hulle in die gesig staar,” het Bailey gesê.  “Vir jongmense met matriek is dit reeds moeilik om werk te vind – des te meer so vir diegene wat nie eens hulle skoolloopbaan voltooi het nie.”

AfriForum beskou die gebrek aan moedertaalonderrig in Suid-Afrika as een van die vernaamste redes vir hierdie groot groep leerders wat tou opgooi voordat hulle hulle skoolloopbaan voltooi.

Leerders se gebrek aan taalkundige, wiskunde- en wetenskapsvaardighede word voortdurend as van die mees ernstige probleme voorgehou wat die plaaslike onderwysstelsel in die gesig staar.  Nasionaal en internasionaal is reeds oor en oor bewys dat leerders nuwe konsepte en vaardighede die maklikste in hulle moedertaal aanleer, en dat hulle hierdie vaardighede dan later maklik na ʼn tweede taal soos Engels kan oordra.  Tog doen die owerhede weinig om moedertaalonderrig wyer beskikbaar te maak en ouers in te lig oor die langtermyn voordele wat dit vir leerders inhou.  Die mite dat Engelse onderrig aan leerders ʼn nasionale en internasionale voorsprong gee, word nie met feite as vals ontbloot nie.  In teendeel, die departement van Basiese Onderwys sit die stryd voort om Afrikaanse skole met regsaksies te probeer dwing om te verengels, in plaas daarvan om die fondse aan te wend vir die skep van nog meer instellings waar uitnemende onderrig in Suid-Afrikaanse kinders se moedertale plaasvind.

AfriForum doen ʼn beroep op ouers om hulle kinders by skole in te skryf waar hulle in hulle moedertaal onderrig kan word.  Ouers word ook deur AfriForum versoek om in ʼn toenemende mate druk op die regering te plaas om gehalte onderrig in kinders se moedertaal te voorsien vir so lank as moontlik – selfs op tersiêre vlak.  Waar moedertaalonderrig reeds beskikbaar is, moet ouers enige poging van die regering om dit in te perk, sterk teenstaan.

“Die matriekuitslae bevestig jaar na jaar dat leerders wat moedertaalonderrig ontvang, beter vaar as diegene wat hulle onderrig in ʼn tweede of derde taal kry,” het Bailey bygevoeg.  “Dit is hoog tyd dat die regering erns maak van moedertaalonderrig en die jeug van Suid-Afrika sodoende bemagtig om hulle skoolloopbane en naskoolse studies met meer sukses te kan aanpak.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.