AfriForum besorgd oor die integriteit van die regbank

Regter Nkola Motata. Foto: Neil Baynes/INLSA

Die Noord-Gautengse hooggeregshof het uitspraak voorbehou in die aansoek van die omstrede regter Nkola Motata om weer as regter op te tree ondanks die hangende tugproses teen hom.

Motata is in 2007 op spesiale verlof geplaas nadat hy onder die invloed van drank met sy luuksemotor deur die tuinmuurtjie van ’n Johannesburgse sakeman, Richard Beard, gebars en ná die ongeluk rassistiese opmerkings teenoor omstanders gemaak het.

Die ondersoek van die Regterlike Dienskommissie (RDK) oor die vraag of Motata skuldig was aan growwe wangedrag kon nie vorder nie omdat daar eers gewag is vir die afhandeling van sy dronkbestuursaak. Hy is in 2009 in die landdroshof skuldig bevind aan dronkbestuur, maar het teen die uitspraak geappelleer. Eers nadat sy appèl in 2011 misluk het, kon die RDK met ’n tugondersoek voortgaan. Dit is egter weer uitgestel toe Motata sy jongste aansoek in November 2011 teen die minister van justisie, die RDK en AfriForum by die hof ingedien het.

AfriForum het saam met die minister van justisie en die RDK, Motata se aansoek teengestaan. AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, het gesê dat AfriForum besorgd is oor die integriteit van die regbank. Dit is hierdie besorgdheid wat AfriForum noop om op te tree teen individue wat daardie integriteit bedreig. Dit is in belang van die regbank dat Motata nie op die bank sit terwyl ernstige klagtes van wangedrag en rassisme teen hom ondersoek word nie.

Uitspraak is voorbehou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.