AfriForum bevraagteken aanstelling van nuwe polisiehoof

Riah Phiyega Foto: Elmond Jiyane

Die burgerregte-inisiatief AfriForum en opposisiepartye het die aanstelling van Mangwashi Victoria (Riah) Phiyega as die land se eerste vroue polisiehoof met gemengde reaksie ontvang.

AfriForum sê hy het in die verlede die belangrikheid daarvan beklemtoon dat kommissarisse Jackie Selebi en Bheki Cele vervang moes word deur gesoute polisielede wat misdaad en die polisiemilieu verstaan. “Ongelukkig het dit in beide gevalle nie gebeur nie.” Phiyega was tot onlangs die voorsitter van die presidensiële hersieningskomitee oor staatsbeheerde ondernemings. Sy het voorheen uitvoerende poste in Absa en Transnet beklee. Volgens Nantes Kelder, hoof van AfriForum se ondersoekeenheid, het dié organisasie egter sy hoop uitgespreek dat Phiyega ernstig oor die stryd teen misdaad sal wees, asook daaroor om korrupsie binne die SAPD uit te roei. Kelder het verder gemeld dat Phiyega se sukses ook gaan afhang van hoe toeganklik sy sal wees ten opsigte van die publiek. “Dit sal nie help as sy die SAPD uit haar kantoor wil lei nie, sy sal op grondvlak tussen die gemeenskap en gewone polisielede moet beweeg,” het Kelder gesê. AfriForum sê hy sal graag met die kommissaris oor die misdaadsituasie in die land in gesprek wil tree en sal positiewe insette wil lewer om die krisis te help aanspreek.

Opposisiepartye het hul kommer uitgespreek oor Phiyega se gebrek aan ondervinding. Die DA sê Phiyega se aanstelling wys dat president Jacob Zuma desperaat is vir ondersteuning voor die ANC se verkiesingskonferensie in Mangaung later vanjaar. Die minister van polisie, Nathi Mthethwa, glo egter Phiyega is die regte persoon vir die pos.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.