Die Noord-Gautengse hooggeregshof gaan vandag ‘n dringende aansoek van AfriForum aanhoor waarin gevra word vir ‘n hofbevel dat die munisipaliteit van Klerksdorp, die Matlosana-munisipaliteit, verplig word om sy verpligtinge teenoor Eskom na te kom en om gelyktydig vir Eskom te verbied om môre voort te gaan om inwoners van dié twee dorpe se elektrisiteit af te sny.
AfriForum het op 22 Februarie 2013 ‘n soortgelyke aansoek in die Mafikengse hooggeregshof gebring, maar het sy aansoek teruggetrek, nadat sekere toegewings en ondernemings deur die munisipale bestuurder van die Matlosana-munisipaliteit in hul antwoordende stukke gemaak is, wat daarop neergekom het dat Eskom, volgens die munisipaliteit, ooreengekom het om nie die elektrisiteit af te sny nie.
Eskom het egter Dinsdag ‘n nuwe kennisgewing uitgereik waarin bevestig word dat die munisipaliteit steeds versuim het om sy agterstallige rekening van R91 812 683.63 te betaal en dat Eskom sal voortgaan om die elektrisiteit Donderdag af te sny.
Die nienakoming van die munisipaliteit se verpligtinge kom neer op ‘n verbreking van die munisipaliteit se grondwetlike plig om plaaslike dienste te lewer.
“Dit is duidelik dat daar niks van die ondernemings en toegewings gekom het wat die munisipale bestuurder namens homself en die munisipaliteit onder eed gemaak het nie en dat hy dit slegs gemaak het om ‘n dringende aansoek af te weer,” het Ian Cameron, AfriForum se organiseerder vir die Noordwes-provinsie gesê.
“Met hierdie aansoek sal ons seker maak dat die munisipaliteit sy plig nakom en doen waarvoor die publiek betaal,” het Cameron bygevoeg.
- Die Noord-Gautengse Hooggeregshof sal 16:00 vanmiddag argumente aanhoor rondom dié aansoek.