AfriForum bring dringende aansoek teen vuurwapenopleiding-monopolie

Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum bring Vrydag ʼn dringende hofaansoek teen die Nasionale Polisiekommissaris, Riah Phiyega, asook die South African Professional Firearms Trainers Council (SAPFTC) nadat die SAPD alle diensverskaffers verplig het om voor 1 November 2013 vir akkreditasie by die SAPFTC aansoek te doen. Laasgenoemde word bestuur deur ander mededingers in die professie, en direksielede van SAPFTC is self diensverskaffers. Dit beteken hulle mag nou hulle kompetisie ook reguleer. Die saak is Maandag uitgestel tot môre sodat die SAPD en SAPFTC genoeg tyd het om te kan reageer.

AfriForum meen dat die SAPD en SAPFTC ʼn monopolie skep deurdat SAPFTC sy mededingers se bedrywighede kan beheer, beperk of manipuleer. Die SAPFTC kan ook insae in vertroulike inligting van mededingers bekom. Dit kan die volhoubaarheid en lewensvatbaarheid van ander diensverskaffers ernstig ondermyn.

“Die wapenwetgewing en regulasies is reeds ingewikkeld en moeilik om te bestuur. Koste styg ook voortdurend en gewone mense vind dit al hoe moeiliker om wapens te registreer,” het Ian Cameron, AfriForum se hoof van gemeenskapveiligheid gesê.

Volgens Cameron het die SAPD en SAPFTC sonder enige konsultasie met rolspelers die reg om opleiding te verskaf sonder waarskuwing ongeldig verklaar. Die hof sal versoek word om te bepaal of hierdie stap wettig was en om diensverskaffers se regte te beskerm.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.