AfriForum bring dringende hofaansoek oor PTA-straatname

Foto: Verskaf

Die burgerregte organisasie, AfriForum, reik Donderdag ’n dringende aansoek uit teen die Tshwane-metroraad om die implementering van sy besluit om 25 strate in Pretoria se name te verander, te stop.

Die organisasie sê in ʼn mediaverklaring dit volg nadat daar ernstige besware was teen die manier waarop die openbare deelname proses deur die stadsraad hanteer is. AfriForum sê volgens berigte het die stadsraad ook sy beleid oor straatname twee maal verander terwyl die proses aan die gang was. Volgens die organisasie dui dit op arbitrêre en onlogiese optrede van die stadsraad oor hierdie belangrike saak. AfriForum sê hy hoop om reeds eerskomende Dinsdag in die dringende hof by die Noord-Gautengse Hooggeregshof oor hierdie saak aangehoor te word.

Maroela Media het vroeër vandag berig dat die Tshwane-metro reeds verskeie straatnaamveranderings in Pretoria aangebring het. Genl. Louis Botha-straat in die ooste van Pretoria se naam is reeds verander na January Masilela-rylaan. Masilela is ʼn voormalige sekretaris van verdediging. Hy is in Augustus 2008 in ʼn motorongeluk oorlede naby Bronkhorstspruit. Die burgerregte organisasie, AfriForum, se regsverteenwoordiger, Willie Spies, sê die Tshwane-metro laat beslis nie op hom wag om straatname in Pretoria te verander nie. Spies sê AfriForum is besig met voorbereidings vir ʼn hofsaak waarin hy die metroraad se besluit om 25 Pretoriase straatname te verander sal beveg. Spies sê ʼn prokureursbrief is reeds deur AfriForum aan die metroraad gestuur, waarin dié raad ook versoek word om die implementering van die besluit om die 25 straatname te verander, op ys te plaas, hangende die uitslag van die voorgenome hofsaak. Spies sê AfriForum het ʼn opvolgbrief aan die metroraad gestuur en wag steeds op ʼn antwoord. Die metroraad het einde verlede maand besluit dat 25 straatname in die hoofstad sal verander.

Die Vryheidsfront Plus sê intussen daar is dringende aksie nodig om straatnaamveranderings in Pretoria stop te sit. “Die ANC is tans op ‘n oneerlike wyse besig om vinnig straatname in Pretoria te probeer verander voordat die regsproses sy loop kan neem,” het dr. Conrad Beyers, VF Plus raadslid gesê. Volgens die VF Plus het die ANC Woensdag tydens ‘n vergadering tussen die verteenwoordigers van die Tshwane metroraad en Ethekwini metroraad gesê dat straatname in Pretoria binne ses weke verander sal wees ten spyte van enige regsaksie. Die VF Plus wat ook by die vergadering verteenwoordig was, het die ANC se voorneme bevraagteken in die lig van die gebrekkige openbare konsultasieproses en ander prosesse. “Dit is nie in belang van die stad asook die land om sensitiewe sake soos naamsveranderinge op hierdie wyse te hanteer nie. Die ANC is besig om onnodiglik die stad se diverse gemeenskappe te polariseer en te vervreem,” het Beyers gesê. Maroela Media wag intussen steeds op kommentaar van die Tshwane-metro.

Die volgende strate se name gaan verander word:

Walker/Charlesstraat: Justice Mohammed
Proesstraat: Johannes Ramokhoase
Duncanweg: Jan Shoba
Gen. Louis Botharylaan: January Masilela
Esselenstraat: Robert Sebukwe
Vermeulenstraat: Madiba
Schubartstraat: Sophie de Bruyn
Potgieterstraat: Kgosi Mampuru
Prinsloostraat: Sisulu
Skinnerstraat: Nana Sita
Jacob Maréstraat: Jeff Masemola
Queen Wilhelminaweg:b Florence Ribiero
Van der Waltstraat: Lillian Ngoyi
Andriesstraat: Thabo Sehume
DF Malanrylaan: Eskia Mphahlele
Hans Strijdomrylaan: Solomon Mahlangu
Mitchellstraat: Charlotte Maxeke
Schoemanstraat: Francis Baard
Zambezirylaan: Sefako Makgatho
Hendrik Verwoerdrylaan: Johan Heyns
Beatrix/Mears/Voortrekkerstraat: Steve Biko
Kerkstraat: Stanza Bopape; Helen Joseph; WF Nkomo en Elias Motswaledi
Michael Brinkweg: Nico Smith
Leah Mangope: Peter Magano
Lucas Mangope: Molefe Makinta

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.