AfriForum doen dringende regstappe teen helikopters vir Zimbabwe

AfriForum sal dringende regstappe doen om te verhoed dat die aflewering Alouette III Suid-Afrikaanse Lugmag-helikopters, wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag aan die Zimbabwiese weermag geskenk is, voortgaan.

Verlede week het AfriForum se regsverteenwoordigers aan die minister van verdediging, mev. Nosiviwe Mapisa-Nqakula, sowel as die minister van justisie, mnr. Jeff Radebe, wat as voorsitter van die nasionale konvensionele wapenbeheerkomitee (NCACC) optree, ‘n prokureursbrief gestuur na aanleiding van spekulasie dat die SANW besluit het om sy hele vloot van gebruikte Alouette-helikopters aan Zimbabwe te skenk.

Die ministers is sewe dae gegun om te reageer op die brief, maar teen sluitingstyd Donderdag is nog geen reaksie van hulle ontvang nie.

Hoewel die ministers nie die moeite wou doen om te reageer op die briewe wat op 17 Januarie 2013 by hulle onderskeie kantore afgelewer is nie, het hul woordvoerders so pas aan Mail & Guardian bevestig dat reëlings omtrent die skenking afgehandel is en dat die aflewering van die helikopters aan Zimbabwe binnekort gaan plaasvind.

Volgens AfriForum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, gaan AfriForum alle regsweë tot sy beskikking gebruik om die versending en aflewering van die vliegtuie aan Zimbabwe te voorkom.

“Ons is ook skriftelik met die waarnemende Franse ambassadeur na Suid-Afrika in verbinding om hom in te lig oor ‘n potensiële risiko dat sy land die Europese Unie wapenverbod teen Zimbabwe oortree, aangesien die Suid-Afrikaanse regering nou Franse ingevoerde onderdele aan Zimbabwe skenk,” het Spies gesê.

Kragtens die Wet op die Nasionale Konvensionele Wapenbeheerkomitee, Wet 41 van 2002, moet die NCACC sekere beginsels in ag neem voordat ‘n transaksie vir die verkoop of lewering van militêre toerusting aan ‘n ander land gemagtig word. Hierdie beginsels sluit onder andere die menseregte-rekord van die betrokke land in.

Die Pretoriase hooggeregshof het onlangs die nasionale direkteur van openbare vervolgings beveel om sekere misdade teen die mensdom wat deur Zimbabwiese militêre offisiere gepleeg is, in ooreenstemming met Suid-Afrika se verpligtinge kragtens die Statuut van Rome te ondersoek.

In die 1970’s tot 1980’s is Alouette-helikopters onder andere deur die Suid-Afrikaanse Weermag gebruik in die Angolese oorlog om lug-tot-grond-hakkejagoperasies op insurgente uit te voer. Die betrokke helikopters is allerweë as ’n gevreesde wapen beskou.

Aanduidings is dat die Zimbabwiese weermag sy sigbaarheid, mobiliteit en teenwoordigheid oor die hele Zimbabwe verhoog in die aanloop tot die nasionale verkiesings wat vir later vanjaar geskeduleer word.

Dit is algemeen bekend dat die Zimbabwiese weermag ’n bepalende rol vervul het in president Robert Mugabe se herkiesing tot President in die berugte tweede rondte van die 2008-presidensiëleverkiesing nadat die MDC Zanu-PF in die parlementêre verkiesings geklop het.

Operasie waVhotera Papi (“vir wie het jy gestem?”) soos die militêre operasie bekend gestaan het, was ‘n sistematiese, wrede onderdrukking van die MDC-ondersteuners deur soldate van die Zimbabwiese weermag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.