AfriForum doen regstappe ter behoud van dienspligtiges se status as militêre veterane

Argieffoto

Argieffoto

Die burgerregte-organisasie AfriForum het sy regspan opdrag gegee om stappe te doen ter behoud van nasionale dienspligtiges van die voormalige weermag se status as militêre veterane.

Dit volg nadat Mbulelo Mmusi, woordvoerder van die departement van militêre veterane, aangedui het dat die name van 16 000 mense wat tydens die vorige bedeling diensplig gedoen het se name van die databasis vir militêre veterane verwyder moet word.

AfriForum se regspan eis dat die minister van militêre veterane, Nosiviwe Mapisa-Nqakula teen 21 Februarie skriftelik onderneem dat die besluit om nasionale dienspligtiges se name te verwyder herroep sal word en sal aandui dat voormalige dienspligtiges vir dieselfde voordele as ander militêre veterane in aanmerking sal kom. Volgens AfriForum sluit die Wet op Militêre Veterane (Wet 18 van 2011) se definisie nie voormalige dienspligtiges uit nie, en word uitdruklik verwys na militêre veterane as Suid-Afrikaanse burgers wat diens gedoen het in statutêre én niestatutêre magte.

Indien die minister nie hieraan gehoor gee nie, sal AfriForum die besluit in die hof op hersiening neem.
Volgens Nantes Kelder, AfriForum se woordvoerder oor militêre veterane, vind sy organisasie dit onaanvaarbaar dat die ANC-regering staatshulp wil misbruik om selektief net na sy eie ondersteunersbasis se belange om te sien, terwyl daar openlik gediskrimineer word teen dienspligtiges uit die vorige bedeling.

“Daar kan nie toegelaat word dat die beginsel van gelykheid voor die reg en gelyke beregtiging van alle militêre veterane vertrap word deur ʼn polities gedrewe regering met dubbele standaarde nie,” sê Kelder.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Carel ·

Dankie afriform – wys jou net hoe diep die rasisme in die ANC loop en dan beskuldig hulle ons daarvan – ek wonder hoe leef sulke mense met hulself?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.