AfriForum eis bedanking van Madibeng-munisipaliteitbestuurder

Ian Cameron van AfriForum oorhandig die memorandum.

AfriForum het Vrydagoggend ʼn memorandum by die Madibeng-munisipaliteit in Brits oorhandig waarin daar versoek is dat die munisipale bestuurder, Monde Juta, onmiddellik bedank. AfriForum meen dat Juta vir die agteruitgang by Madibeng aanspreeklik is.

“Ons het besluit om ʼn memorandum te oorhandig om die owerhede sover te kry om te reageer. Madibeng is ʼn spilpunt in Noordwes en die swak administrasie daar is ʼn verleentheid vir die regering,” het Ian Cameron, AfriForum se organiseerder in Noordwes gesê.

Volgens Cameron het Juta as munisipale bestuurder tot dusver sy pligte versuim en gefaal om die gemeenskap se versoeke en probleme te erken.

“Boonop het die Spesiale Ondersoekeenheid se verslag van 2011/2012 bevestig dat korrupsie in die munisipaliteit hoogty vier en het die Ouditeur-Generaal se verslag uitgewys dat die munisipaliteit nie kan rekenskap gee van bates van meer as R1 miljard nie,” het Cameron bygevoeg.

Cameron het gesê indien Juta nie gehoor gee aan AfriForum se oproep om te bedank nie, die organisasie ʼn soortgelyke memorandum aan die LUR vir plaaslike regering en tradisionele sake in Noordwes en die premier van die provinsie, Thandi Modise, stuur om Juta se afdanking te eis. Die munisipale raad sal ook versoek word om Juta as bestuurder te ontslaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.