AfriForum en Lyttelton-polisiestasie stryk taalprobleme uit

Lyttelton-polisiestasie in Centurion Foto: Google Earth

Lyttelton-polisiestasie in Centurion Foto: Google Earth

Tydens ʼn vergadering wat Dinsdag plaasgevind het, het die Lyttelton-polisiestasie AfriForum tevrede gestel dat maatreëls in plek is om te verseker dat probleme met meertalige dienslewering by die stasie iets van die verlede is.

Dit volg nadat Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, op 7 Januarie 2014 ʼn klag by die nasionale polisiekommissaris gelê het omdat lede, wat by hierdie stasie in Centurion aan diens was, geweier het om sy verklaring oor ʼn misdaad-insident in Afrikaans te aanvaar.

Senior SAPD-lede verbonde aan die Lyttelton-polisiestasie het AfriForum die versekering gegee dat al die klagtes in ʼn ernstige lig beskou word en met volhoubare oplossings reggestel is om te verhoed dat die publiek weer met ʼn soortgelyke situasie gekonfronteer word. Die stappe sluit in dat:

  • alle lede wat by die Lyttelton-polisiestasie werksaam is, oor die belangrikheid van veeltalige dienslewering ingelig is en oor die publiek se taalregte gesensitiseer is. Hulle sal deurlopend hieraan herinner word;
  • die saak ook tot op provinsiale vlak hanteer is – die sensitiseringsproses vind dus wyer plaas;
  • standaard verklaringsvorms wat deur die polisiestasie gebruik word, onder meer in Afrikaans vertaal is en meertalig aan die publiek beskikbaar gestel word;
  • moeite gedoen word om te verseker dat personeel tydens elke skof beskikbaar is om meertalig diens te lewer; en
  • gereelde kontak met AfriForum gehou sal word om sake dadelik reg te stel indien enige soortgelyke probleme ooit weer sou plaasvind.

AfriForum het ook aangebied om betrokke te raak by polisiestasies en gemeenskapspolisiëringsforums wat inligting of hulp met taalkwessies benodig.

Volgens Alana Bailey, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum wat verantwoordelik is vir taalkwessies, is dit verblydend dat die polisiestasie so vinnig en doeltreffend op die klagtes gereageer het. “Die positiewe samewerking is ʼn voorbeeld vir ander staatsinstellings van hoe goeie dienslewering moet plaasvind,” het sy gesê.

Intussen gaan AfriForum steeds voort met ʼn veldtog om inligting te versamel oor taalprobleme wat ondervind word wanneer die polisie se noodnommer, 10111, geskakel word. AfriForum het ook hier ervaar dat diens slegs in Engels beskikbaar was toe die nommer geskakel is. Die probleem word in ʼn ernstige lig beskou, aangesien dit hier oor ʼn nasionale nooddiens gaan en alle lede van die publiek nie noodwendig Engels kan praat nie. Enigeen wat soortgelyke probleme tydens ʼn oproep aan 10111 ervaar het, word versoek om die inligting aan AfriForum deur te gee deur ʼn vorm op die webwerf in te vul, of dit aan [email protected] te stuur. AfriForum onderneem om die klagtes onder die nasionale kommissaris van polisie se aandag te bring en so gou as moontlik ook volhoubare oplossings daarvoor te probeer vind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

GawieM ·

Die vraag is net waarom is dit nie in die eerste plek, en by alle polisie stasies, in plek nie?

Andre Kruger ·

Dit is nie net belangrik vir die Polisie om die klaer in sy eie taal te help nie maar die beampte moet die klagte verstaan en ‘n korrekte weergawe aanteken. OPLEIDING ! OPLEIDING !

Ria Maritz ·

Dankie AfriForum, dit wil gedoen word ! Ek wonder tog, sou dit ek wees, of sommer enige jan rap en sy maat wat hierdie behandeling ontvang het, sou dit dieselfde aandag geniet het ?

Hoogtyd ons staan op vir ons pragtige taal.

Demokraat ·

Mens is nogeens baie dankbaar dat AfriForum ook in hierdie geval tussenbeide getree het om ‘n baie delikate, maar tog voor-die-hand-liggende saak te beredder.

Nienie ·

Afriforum kan sommer klaar die volgende polisiestasie aftik op hulle lysie nl. Lephalale Polisiestasie.
Ek was `n hele rukkie terug `n getuie waar diens aan `n Afrikaanssprekende dame geweier is.
Jy word ook nie in die Aanklagkantoor gehelp met sertfiserings nie. Jy moet buitekant, oorkant die pad, onder `n boom in die tou gaan val om gehelp te word (wat buite die polisieperseel is)

kraalmuur ·

Dit wys mens net hoe diep verpolitiseer selfs die polisie is dat rassepolitiek voorrang het bo dienslewering, beskerming en handhawing van die wet.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.