AfriForum gaan ANC-skikking teen Xingwana aanwend

Lulu Xingwana. Foto: GCIS

Verteenwoordigers by AfriForum se eerste nasionale kongres het vandag eenparig ʼn mosie aanvaar dat die skikking wat verlede jaar tussen AfriForum en die ANC bereik is, aangewend moet word om die voortdurende beledigings wat deur senior ANC-leiers teenoor Afrikaners en Christene gemaak word, met die nasionale leierskap van die ANC opgeneem moet word.

Hierdie mosie sluit in dat die v8erskoning wat Lulu Xingwana, die minister van vroue, kinders en mense met gestremdhede vir haar belediging teenoor Afrikanermans en hul “Calvinistiese geloof” gemaak het, nie voldoende is nie, aangesien dit nie deur enige verdere optrede opgevolg is nie. “Xingwana se uitsprake moet in die breër ANC konteks gesien word,” het Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum gesê. “Haar uitspraak is as’t ware maar net een belediging in ʼn lang reeks van beledigings wat onlangs deur senior ANC-leiers teenoor Afrikaners en selfs Christene gemaak is.”

In Desember 2011 het president Jacob Zuma gesê dat die gebrek aan medemenslikheid in die gemeenskap (wat institusionele sorg vir weeskinders en bejaardes noodsaak) aan die koms van die Christendom en Bybel na Suid-Afrika toegeskryf kan word. In Mei 2011 het die voormalige president van die ANC Jeugliga, Julius Malema, in Zuma se teenwoordigheid gesê dat alle witmense kriminele is en as sodanig hanteer moet word. Hy is nooit hieroor aangespreek nie en geen stappe is in hierdie verband teen hom geneem nie.

“Enige poging van die ANC om vreedsame naasbestaan te bevorder, terwyl hierdie tipe uitsprake in eie geledere voortgaan, kom op lippediens neer. Ons werk nie meer met individue wat onverantwoordelike goed kwytraak nie, maar met ʼn diskriminerende organisasiekultuur in die ANC,” het Roets gesê.

Die skikking wat in 2012 in die “Skiet die Boer”-saak bereik is, sluit onder meer in dat die partye tot die skikking hulle toewy tot voortgesette formele dialoog om wedersydse begrip vir hulle onderskeie kulturele erfenisse en aspirasies te bevorder. Hierdie skikking is ʼn bevel van die hoogste hof van appèl gemaak en het bindende gesag op al die partye wat by die saak betrokke was.

  • ʼn Totaal van 10 mosies is deur die kongres aanvaar, waarvan die meeste verband hou met projekte wat regoor die land deur AfriForum se plaaslike strukture aangepak sal word. ʼn Mosie oor ʼn verskerpte veldtog teen plaasmoorde op plaaslike vlak is ook aanvaar, wat by ʼn latere geleentheid volledig aangekondig sal word. Die kongres is die eerste van sy soort en is bygewoon deur verteenwoordigers van AfriForum se 106 takke van regoor Suid-Afrika.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Riaan ·

As enige blanke, openbare figuur of nie, dit sou waag om enigsins die K-woord in die openbaar te gebruik, verloor hy dadelik sy werk, word deur elke politiek-korrekte wittes soos gemors behandel en word hy deur die media gekruisig. Vir enige swarte om neerhalend en haatdraend van n witte te praat, is skynbaar nie n sonde nie – soos wat baie ander onregte teenoor wittes nie sonde is nie… Wittes is mos voelvry verklaar – van hulle kan jy se wat jy wil en aan hulle kan jy doen wat jy wil. Niemand sal n oog knip nie, want hulle is derderangse burgers in hulle eie land. Solank wittes dit toelaat en gatkruip by die ANC, sal dit nie anders wees nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.