AfriForum gaan hof toe oor Pretoria straatname

Die burgerregte groep AfriForum gaan die Tshwane-metroraad se besluit om 25 Pretoriase straatname te verander, in die hof beveg.

AfriForum sê in ‘n verklaring dat hy reeds ʼn prokureursbrief die metroraad gestuur het, waarin dié raad ook versoek word om die implementering van die besluit om die 25 straatname te verander, op ys te plaas, hangende die uitslag van die voorgenome hofsaak. AfriForum sê sou die metroraad nie teen 16 April 2012 ʼn skriftelike onderneming in dié verband teenoor AfriForum maak nie, die organisasie die Noord-Gautengse hooggeregshof sal nader om ʼn interdik te bekom teen die implementering van die straatnaamsveranderings voordat die voorgenome hofsaak teen die naamsveranderinge afgehandel is. Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, is daar reeds in 2008 ʼn hofaansoek teen die voorgestelde verandering van die Pretoriase straatname wat nou verander word, gebring, maar is die saak van die hofrol verwyder nadat die metroraad onder eed in hofstukke onderneem het om geen naamsveranderings te maak voordat ʼn verdere proses van openbare deelname gevolg is nie. “Die metroraad se eensydige besluit om die naamsveranderings nou deur te jaag, is ʼn blatante verbreking van hierdie onderneming, wat regstappe deur AfriForum regverdig,” het Kriel bygevoeg.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum graag die geskil oor Pretoria se naam en straatname in die stad deur gespreksvoering wou oplos. “AfriForum sal hom egter nie laat flous deur die verandering van straatname met kultuurhistoriese belang te aanvaar in die lig van vae beloftes dat Pretoria se naam dalk in die poses gered kan word nie,” het Kriel gesê. AfriForum se prokureursbrief aan die metroraad is beskikbaar by www.afriforum.co.za

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.