AfriForum gaan nie vir e-tol registreer nie

Die e-tolhekke in Gauteng

AfriForum het vandag weer bevestig dat die organisasie se personeel en verteenwoordigers nie vir die beplande e-tol sal registreer nie en het die publiek aangemoedig om dieselfde te doen. Die Suid-Afrikaanse Padagentskap (Sanral) het vroeër aangekondig dat motoriste moontlik binne twee maande sal begin om e-tol op hoofweë in Gauteng te betaal.

Ernst Roets, adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, het gesê dat Sanral gedwing sal word om weer te besin oor die kostedoeltreffendheid van die e-tolstelsel as ʼn verhalingsmeganisme indien genoeg motoriste uit protes ook nie vir e-tol registreer nie.

Roets het bygevoeg dat die ware krisis by ʼn gebrek aan politieke leierskap lê. “In die eerste plek is die nienakoming van die politieke oorsigrol wat die minister van vervoer moes speel deur toe te sien dat die verbetering van paaie in die land op die mees kostedoeltreffende wyse gefinansier word, ʼn probleem. Wanadministrasie, korrupsie en gebrekkige begrotingsbeplanning deur die regering is alles faktore wat meegebring het dat die staat nie sy plig kon nakom om paaie te finansier nie. Die tweede probleem is die staat se gebrek aan politieke leierskap om ʼn meer doeltreffende oplossing in konsultasie met die publiek te vind.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.