AfriForum gaan voort met watertoetsprojek ten spyte van regering se dreigemente

Argieffoto

Argieffoto

AfriForum het Woensdag gesê hy sal voortgaan met sy eie Blou- en Groendruppelprojek ten spyte van ʼn dreigement van die departement van waterwese (DWW).

Mava Scott, die woordvoerder van die DWW, het Dinsdag in ʼn verklaring gesê AfriForum se projek, om die gehalte van water in Suid-Afrika te toets, mislei die publiek en is opportunisties.

“Sulke optrede dra nie net die risiko van wettige nagevolge nie, maar dra ook die grootste gevaar dat die publiek mislei word oor die ware toestand van waterdiensteregulering en –monitering,” het Scott gesê.

AfriForum het Dinsdag die projek bekend gemaak en gesê dit vorm deel van ʼn inisiatief om die gehalte van munisipale drinkwater en rioolafvalwater landswyd te toets.

Scott het gesê die toetse waarna AfriForum verwys fokus net op ʼn enkele watergehalte-analise, wat slegs ʼn gedeelte is van ʼn groter proses wat die departement se eie Blou- en Groendruppeloudit jaarliks uitvoer.

Hy het gesê die DWW se oudit bestaan in geheel uit die toetsing van die area se betrokke netwerkstelsel, pompprosesse, en die behandeling en ontslag van afvalwater. Hy sê voorts die Bloudruppel-status, wat die gehalte van drinkwater aandui, kyk na risikobestuur van die bron tot by die kraan. “Dié soort ontleding en evaluering is gebaseer op gereelde en jaarlikse uitslae en nie net eenmalige monsters wat getoets word nie. Eenmalige toetse kan nie ʼn tendens uitwys nie.”

Volgens Scott benodig AfriForum toestemming van die minister om toegang tot persele te kry om hul toetse uit te voer, aangesien die wet nie enigiemand toelaat om waterbehandelingfasiliteite te besoek nie, tensy die minister dit skriftelik goedkeur.

“AfriForum sal sy projek voortsit; die dreigemente van die DWW sal ons nie stuit nie. Maar dit skep wel kommer oor wat werklik in Suid-Afrika met waterbestuur aan die gang is,” het Julius Kleynhans, hoof van omgewingsake by AfriForum, Woensdag gesê.

“Daar is elke dag berigte op die nuus oor waterdienste en die gehalte van water in Suid-Afrika. Die doel van AfriForum se drinkwater-inisiatief is om mense bewus te maak van watergehalte en -kwessies en om gewone Suid-Afrikaners betrokke te kry by die bestuur en bewaring van hierdie kritieke hulpbron,” sê Kleynhans.

Die toetse word uitgevoer op drinkwater en behandelde riool om seker te maak dat daar aan nasionale standaarde voldoen word. “Ons is teleurgesteld en verstom oor die DWW se reaksie. ʼn Mens sou dink dat die departement hulp met die bestuur en bewaring van water sou verwelkom,” het Kleynhans gesê.

Om te verseker dat die uitslag van die toetse betroubaar is, gaan watermonsters deur onafhanklike SANAS-geakkrediteerde laboratoriums getoets word en uitslae sal op 17 Maart 2014 beskikbaar gestel word.

AfriForum het die publiek versoek om as waghonde op te tree en waterverwante probleme aan te meld by https://www.afriforum.co.za/dink-water/ . Mense kan ook per SMS aandui of die water in hul dorp skoon is deur “JA” of “NEE” te SMS na 32277. ʼn SMS kos R1.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jasper ·

Mnr. Scott, lyk my jy’s bang daar’s dalk n brol in die drinkwater ?

Jeanetta Dyman ·

Ons het van Bellville, Kaapstad gereeld gekuier in Wonderboom (Pta) en maand terug verhuis na Montana (Pta). Die plekke se kraanwater gee my maagongesteldheid. Verplig om gesuiwerde water te drink.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.