AfriForum gereed vir Konstitusionele hofaansoek teen Geheimhoudingswet

AfriForum se regspan is gereed om die Wetsontwerp op die Beskerming van Staatsinligting in die Konstitusionele Hof ongeldig te laat verklaar, sou dié wetsontwerp hierdie week in die parlement ingestem word. In die lig hiervan het AfriForum opnuut ’n beroep op die staatspresident gedoen om ingevolge artikel 84(2)(c) van die Grondwet, die wetsontwerp na die Konstitusionele Hof te verwys vir ’n bevel oor die grondwetlikheid daarvan, voordat dit as wetgewing afgedwing word.

Adjunk uitvoerende hoof van AfriForum, Ernst Roets, het verduidelik dat AfriForum reeds ’n senior advokaat wat in mediareg spesialiseer opdrag gegee het om ’n regsmening oor die grondwetlikheid van die wetsontwerp op te stel. “Daar is verskeie redes waarom die wetsontwerp nie die grondwetlikheidstoets sal slaag nie,” het Roets gesê. Hierdie redes sluit die volgende in:

• Die wetsontwerp is in geheel vaag, ingewikkeld en moeilik verstaanbaar.
• Die kriteria vir klassifikasie van inligting is uiters vaag en laat ruimte vir onkonsekwente toepassing.
• Die geheime aard van klassifikasie sal tot gevolg hê dat die beskerming van fluitjieblasers slegs in beginsel beskerm word, maar sonder enige praktiese effek.
• Die toepassing daarvan is te wyd en die kriteria vir klassifikasie is vaag en onduidelik. Dit laat ruimte vir growwe onkonsekwentheid by besluitneming oor klassifikasie van inligting. Dieselfde geld vir die deklassifikasie van geheime inligting.
• Ingevolge die wetsontwerp sluit die definisie van “inligting” ook “valse inligting” in. Dit is te breed en ongrondwetlik.
• Ten spyte van klousules wat poog om die teendeel te verseker, sal die wet steeds tot gevolg hê dat die publiek grootliks in die duister gelaat word in ’n demokrasie wat verkondig om oop en deursigtig te wees. Daar sal steeds ’n oorweldigende vrees bestaan dat die geheimhoudingsfunksies misbruik word.
• Die wet in sy huidige vorm sal verhoed dat die media sy demokratiese plig om as waghond op te tree kan uitvoer, omrede inligting op lukraak wyse geklassifiseer kan word.

Roets het bygevoeg dat die regte op vryheid van uitdrukking en toegang tot inligting die hoeksteen is waarop enige demokrasie gebou moet word. “Een van die kenmerke van ’n demokratiese bestel is dat landsburgers teen wanpraktyke van staatsamptenare beskerm word. Indien hierdie wetsontwerp op die wetboeke afgedwing word, sal dit bykans onmoontlik wees. Sonder die vrye media en toegang tot inligting, sal enige bewerings dat Suid-Afrika ’n gesonde demokrasie is, van alle geloofwaardigheid gestroop wees,” het Roets gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.