AfriForum help Afrikaanse seuntjie wat seksueel aangerand is

Argieffoto.

AfriForum het ʼn aansoek ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting op die nasionale kommissaris van polisie se kantoor beteken rakende die beskikbaarheid van forensiese maatskaplike werkers in die Suid-Afrikaanse Polisie.

Volgens Nantes Kelder, hoof van AfriForum se ondersoekeenheid, is die aansoek gebring nadat AfriForum ʼn privaat forensiese maatskaplike werker moes kontrakteer om ʼn vierjarige slagoffer van ʼn beweerde seksuele misdryf te assesseer. Die saak teen die beskuldigde sou van die hofrol geskrap gewees het indien AfriForum nie ingegryp het nie, nadat die polisie nie ʼn forensiese maatskaplike werker beskikbaar gehad het wat die slagoffer in Afrikaans, sy huistaal, kon assesseer nie.

Volgens Kelder blyk dit dat daar nie net ʼn tekort aan forensiese maatskaplike werkers is om Afrikaanse kinders te assesseer nie, maar dat die tekort oor die algemeen ʼn krisis vir slagoffers van alle taalgroepe veroorsaak. “Die enigste verloorders in die hele proses is ons kinders, veral dié kinders wat in arm omstandighede grootword,” het Kelder gesê. Kelder het verder daarop gewys dat die betrokke slagoffer saam met sy ma in ʼn wendy-huis bly. Die moeder sou nie uit haar eie kon betaal vir sy assessering nie.

Kelder het ook daarop gewys dat die ondersoekbeampte in die betrokke geval by verskeie geleenthede nie eers die hofsaak bygewoon het nie. Daar is sedert die saak geopen is ook nog nie ʼn verklaring by die slagoffer geneem nie. “Dit is weer klinkklare bevestiging dat die polisie en die regering nie die belange van kinderslagoffers op die hart dra nie. Kinders word letterlik aan die oortreder se genade oorgelaat,” het Kelder bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Trippie ·

Dankie Afriforum … net nog ‘n bewys, BEE is ‘n ONDING !

Waar is al ons bekwame mense – OORSEE, en ‘n paar van diesulkes wat wel ‘n professionele beroep volg, was betrokke by seksuele misdade !

DIT SKREE TEN HEMELE !

DOODSTRAF VIR PEDOFIELE EN VERKRAGTERS !

Anelde de Waal ·

Hi Trippie,
Ek stem saam dat meeste van ons bekwame mense oorsee is, en sal weet want ek het self in die professie van kindermishandeling, hetsy emosioneel,fisies of seksueel, gespesialiseer vir 24 jaar, maar om die aantuiging te maak dat ons self betrokke was by seksuele misdade is gevaarlik. Ek hoor jou gevoel van moedeloos- en magteloosheid, dit is hoe ek ook gevoel het toe ek 3 jaar gelede besluit het om n breek te vat. Ons het baie salaris trekkers en weinig salaris werkers. Daar is verskeie redes daarvoor maar ek durf nie dit hier aanspreek nie. Daarom sal ek vandag met Afriforum kontak maak om my dienste beskikbaar te stel indien daar behoefte is.
Vriendelike groete
Anelde

Willy ·

Wanneer die regering weer die datum en plek van bymekaarkom aankondig van die sogenaamde “abuse against women and children” waar hulle geen erg aan het, gaan ek wragtig met ‘n paar “high heels” en ‘n plakkaat my misnoë te kenne gee om hulle onbevoegdheid, laksheid en luiheid onder hulle aandag te bring

Christa Kapp ·

Nie net is die persone wat die dade pleeg skuldig aan onsedelike aanranding, verkragting ens, nie maar ook die persone wat nie hulle werk doen nie. Hoekom as iemand weet van ‘n moord, dit nie rapporteer nie, ook skuldig gevind kan word as medepligtige, hoekom ook nie diegene wat niks doen nie, polisie inkluis.

Stoere Boer ·

Hulle gee nie om of alles ten gronde gaan en of misdadigers vry rondloop nie. Dit gaan vir hulle om hul sakke vol geld te kry. Wat sal ons doen sonder organisasies soos Afriforum

Peter Vonk ·

Stoere Boer,netso,”hulle” raas en blaas maar niks daadwerkliks kom daarvan.

Peter Vonk ·

Dankie Afriforum,net weer n bewys,julle organisasie verstaan integriteit en deernis.

Dottie ·

My seun is jare gelede deur ‘n mede-leerling tuis verkrag. Alhoewel die skool oor sielkundiges beskik het wou hulle nie help met berading. Childline het my na onderwys departement verwys. Kinders was beide 13 jr oud. Ons het hom na privaat sielkundige gevat om hom te help om alles te verwerk. Nie eers probeer aanmeld na die skool en childline ons nie kon of wou help nie. Kinders verloor net.

Maggie ·

Ek is nou so kwaad, ek kan nie glo, dat die ma nie ander hulp gaan soek het nie, ek sal aan en aanhou totdat iemand gehoor gee. Tien teen een is die ondersoekbeampte kop in een mus met teisteraar, baie dankie agriforum, hou ons asb op hoogte van die saak, gee maar daai ou seuntjie vir my ek sal hom beskerm met my lewe.

Cathy Louw ·

Ons is deur dieselfde situasie met vriende van ons. Hulle dogter is deur ‘n 45 jarige man statutêr verkrag, het sy kind gehad, en ook die ander suster is seksueel gemolesteer…die saak is nooit ondersoek nie en dit nadat ons ‘n verklaring af gelê het in die kind se eie woorde….sy is vandag lesbies agv daardie ondervinding as jong dogter.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.