AfriForum help blinde student baklei vir beter busdienste by TUT

Johan Venter, ‘n blinde student aan die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT), het die burgerregte-organisasie AfriForum genader om bystand aangesien hy probleme met dié universiteit se busdiens ondervind, wat hom van sy onafhanklikheid ontneem.

Die 27-jarige Venter, ʼn B-Tech student in afrigtings- en beamptewetenskappe, en sy gidshond, Ogzy maak gereeld gebruik van die TUT se busdiens. Dié busdienste, wat deur ʼn gekontrakteerde maatskappy voorsien word, vervoer studente van en na die kampus in Pretoria-Wes. Volgens Venter maak die busse nie voorsiening vir studente met gestremdhede nie. Die busse het nie spesiale sitplek vir blinde studente of hulle gidshonde nie. Venter is ook al verskeie kere in die Pretoriase middestad gelos, omdat die bus vol was. Hy moes in die son staan en sy hond, wat allergies is vir bye, is daardie dag deur ʼn by gesteek. Venter sê hy het verlore gevoel.

Volgens Venter het hy met die TUT gekorrespondeer en vergaderings aangevra, maar dat sy kreet op dowe ore geval het. Hy het AfriForum genader om hom vir sy burgerregte te help opstaan. Volgens AfriForum wil die organisasie ʼn omgewing help skep wat vir mense met gestremdhede én afhanklike bejaardes akkommoderend en toeganklik is. AfriForum se regspan het ‘n prokureursbrief aan die TUT geskryf en eis ‘n ontmoeting met die Universiteit om werkbare oplossings te vind, sodat Venter, en persone in dieselfde posisie as hy, gelyke regte as ander studente kan geniet.

“Hierdie saak is veel meer as bloot ‘n geskil rakende vervoerdienste. Dit raak die basiese regte van elke persoon met ʼn gestremdheid en is daarom ‘n uiters belangrike kwessie om aan te veg,” sê Werner Human van Hurter Spies Ing, AfriForum se regsverteenwoordigers. “Indien die Universiteit nie teen Dinsdag, 2 April 2013 op ons brief reageer nie, sal ons die Gelykheidshof nader,” het Human bygevoeg. AfriForum moedig alle persone met gestremdhede aan om diskriminerende optrede by AfriForum aan te meld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.