AfriForum Jeug hou kranslegging vir slagoffers van ANC-terreuraanvalle

Dirk van Eck plaas 'n krans langs foto's van sy afgestorwe vrou en kinders. Foto: AfriForum Jeug

AfriForum Jeug het Sondag ‘n kransleggingseremonie in Pretoria gehou ter nagedagtenis aan die mense wat in die ANC se terreuraanvalle op burgerlikes gedurende die tagtigerjare gesterf het. Die seremonie het saamgeval met die ANC se eeufees en is gehou op die presiese plek waar die ANC die sogenaamde Kerkstraatbom op 20 Mei 1983 laat ontplof het. Die oorgrote meerderheid van die slagoffers was burgerlikes. Negentien mense het gesterf en 114 is beseer.

Mnr. Dirk van Eck – wie se vrou Kobie (34) en twee kinders, Ingatius (2) en Nelmari (9), op 15 Desember 1985 in ‘n ANC-landmynaanval naby Musina (destyds Messina) gesterf het – was ook by vandag se seremonie teenwoordig en het ‘n krans geplaas langs foto’s van sy afgestorwe vrou en kinders. Van Eck se ander seun, Erick, het die aanval as 18-maande-oue baba oorleef.

Volgens Charl Oberholzer, nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, is besluit om die kranslegging op die ANC se eeufees te hou sodat die slagoffers van die ANC se terreuraanvalle en growwe skendings van menseregte nie vergete raak weens die propagandistiese wyse waarop die ANC probeer om die donker kant van sy verlede tydens die feesvieringe te verbloem nie. “Dit is vir ons as jongmense belangrik dat ons en ons nageslag nie uitgelewer word aan die eensydige en geromantiseerde weergawe van die ANC se geskiedenis nie,” het Oberholzer bygevoeg. “Dis ’n mite dat almal wat aan die kant van die ANC aan die struggle deelgeneem het, onbevlekte helde was, terwyl die res as boos voorgehou word.”

Oberholzer het daarop gewys dat die volle prentjie van die ANC se geskiedenis ook die volgende feite moet bevat:
• Dat die Waarheids- en Versoeningskommissie (WVK) bevind het dat die ANC-leierskap verantwoordelik gehou kan word vir “die growwe skending van menseregte” vanweë die landmynaanvalle en ander terreurdade;
• Dat, ten spyte daarvan dat die ANC Protokol 1 van die Geneefse Konvensie – wat aanvalle op burgerlikes en die gebruik van landmyne en bomme uitdruklik verbied – in 1980 onderteken het, 80% van die ANC se terreuraanvalle daarna op burgerlikes gemik was. Dit was die gevolg daarvan dat die ANC se politieke leiers gedurende Junie 1985 tydens hulle nasionale konferensie in Kabwe, Zambië, besluit het dat die “onderskeid tussen harde en sagte teikens” moet verdwyn;
• Dat sowat 700 burgerlikes wreed deur die sogenaamde halssnoermetode vermoor is (brandende motorbande om slagoffers se nekke), 400 op ander maniere doodgebrand is en 250 in bom- en skietvoorvalle deur die ANC en hulle bondgenote gesterf het;
• Dat die ANC sy militêre vleuel, Umkhonto we Sizwe (MK), tussen die einde van 1985 en middel-1987 getaak het om landmyne as deel van “Operasie Kletswayo” te plant. In dié tydperk was daar 30 landmynontploffings waarin 25 mense – van wie 24 burgerlikes – gesterf het en 76 beseer is;
• Dat die slagoffers van ANC-terreuraanvalle, soos die Kerkstraatbom, steeds wag op antwoorde van veral lede van die groep van 37 ANC-leiers wie se amnestie-aansoeke deur die hof verwerp is omdat hulle nie volle onthullings voor die WVK wou maak oor die terreurdade wat uit hulle besluite en opdragte voortgevloei het nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.