AfriForum-Jeug sê die studente-onluste by die Universiteit van die Vrystaat (UV) is die gevolg van die UV-bestuur se gedwonge politieke inmenging in studentesake.
Swart en wit studente het mekaar vroeër die week by die universiteit getakel. ʼn Groot groep ANC-jeugliga, waaronder UV-studente, het na die kampus se hoofgebou opgeruk. Die universiteit het ʼn dringende interdik teen die betogers gekry. “Ons keer Sasco se optrede ten sterkste af en doen ʼn beroep op die UV-bestuur om dissiplinêre stappe te neem teen enige studente wat hulle aan wanpraktyke skuldig maak. Die UV-bestuur, en in besonder die studentedekaan, moet egter ook ʼn belangrike les leer, naamlik dat gedwonge politieke inmenging in studentesake nooit volhoubaar is nie en dat dit tot frustrasie onder die studentegemeenskap sal lei,” het Johannes Muller, nasionale ondervoorsitter van AfriForum Jeug, gesê. Die ANC-Jeugliga en die studente-organisasies Sasco en Cosas wil hê die rektor van dié universiteit, prof Jonathan Jansen, moet bedank.