AfriForum Jeug laat spat braairekord; wag nou op Guinness Book of Records

AfriForum Jeug het die afgelope naweek tydens die Windpompfees in Naboomspruit (Mookgopong) die rekord vir die langste ononderbroke braai van 32 ure en 17 minute verbeter. Die nasionale voorsitter van AfriForum Jeug, Charl Oberholzer, het vir langer as 33 ure sonder ophou gebraai. Sy reuse-poging was ten bate van moedertaalonderrig.

Volgens Oberholzer moes daar voldoen word aan verskeie vereistes van die Guinness Book of Records. Tydhouers, logboekaantekenaars en onafhanklike getuies moes deurentyd teenwoordig wees en die rekord – van begin tot einde – moes op video vasgevang word. Daar moes verder deurgaans vyf tipes vleis op die rooster wees en dit was ʼn vereiste dat al die vleis geëet moet word na afloop van die rekordpoging. “Alle bewysstukke van die rekord is vandag aan die Guinness Book of Records gestuur,” sê Oberholzer.

“Die rekord is ʼn wyse waarop ons as Afrikanerjongmense ons eie kultuur op ʼn positiewe wyse kan vier. Die doel van die rekord was ook om fondse in te samel vir AfriForum se veldtog Red Afrikaanse Skole. Dié veldtog verskaf regshulp aan skole wat van regeringskant gedwing word om te verengels.”

Die rekord is verbeter nadat AfriForum Jeug en die Potgietersrus Distrikslandbou-unie (DLU) op dieselfde geleentheid 630 meter boerewors gebraai het. Bewysstukke van dié rekord sal ook aan die Book of Records gestuur word.

“AfriForum Jeug het al voorheen braairekordpogings suksesvol aangepak en doen dit om jongmense opgewonde te maak oor hulle eie kultuur. Daar is soveel geleenthede vir jongmense in Suid-Afrika om ʼn verskil in hulle eie realiteit te maak, al is dit net om ʼn braairekord te verbeter of om te werk vir iets groter as jyself,” sê Oberholzer.

Maatskappye en individue is welkom om ʼn uur van die rekord te borg deur ʼn e-pos te rig aan [email protected] en by te dra tot die beskerming van moedertaalonderrig in skole.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.